Dagboek 2021 – 4 April
Skok en ongeloof
Bybelteks(te)
MATTEUS 28
Jesus het opgestaan
Die berig van die wagte
Hoekom gaan ’n mens na die graf van ’n geliefde toe? Eintlik maar om te treur. Jy verwag nie om jou geliefde weer te sien nie. Ook nie die vroue wat die Sondagmôre na Jesus se graf toe gaan nie. Hulle het ook nie ’n oop, leë graf verwag nie. Daarom verstaan ’n mens hul skok wanneer iemand skielik vir hulle sê: Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het.
Matteus vertel hoe hulle toe haastig van die graf af weggaan: bang maar baie bly. Jy sien hulle in jou geestesoog hardloop, vassteek, omkyk, vir mekaar kyk, weer hardloop. Dan staan die Here self skielik voor hulle. Jy kan jou net indink hoe hulle van skok versteen. Maar Jesus stel hulle gerus: Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.
Aan die ander kant die ongeloof. Die wagte het hulle behoorlik wit geskrik. Maar daar móét ’n ander verklaring wees. Die Joodse priesterhoofde en familiehoofde betaal daarom die wagte om te vertel dat hulle in die nag aan die slaap geraak het, en toe het Jesus se dissipels gekom en sy liggaam gesteel.
Tot vandag toe word hierdie twee verhale oor Jesus se opstanding vertel: die skokkende verhaal wat getuig van die verrassende ontmoeting met die lewende Here, en die verhaal van ongeloof wat hierdie getuienis met fopnuus wil verdoesel. Fopnuus ontstel mense; die goeie nuus dat Jesus lewe, gee mense nuwe hoop. In ’n wêreld vol fopnuus het ons goeie nuus om te deel:
Ons juig weer oor ’n leë graf, ’n steen wat weggerol is,
u heerlikheid, triomf en krag waarvan die aarde vol is!
O seën hierdie Paasfeestyd.
Die engele het daar verskyn; vertel van al u werke.
Die vroue haas hul van die tuin, hul vreugde ken geen perke.
Die Heer het waarlik opgestaan en Hy het ons vooruit gegaan.
Loof Hom, die Heer, die Sterke!
(Gesang 404)
Dr Wouter van Wyk, Sinodaal