Dagboek 2021 – 4 Junie
Die Heilige Gees en omgeetaal
Bybelteks(te)
HANDELINGE 2
Die eerste gemeente
Ons staan nog stil by die Heilige Gees en ons hoor hoe die Heilige Gees met ons praat in die taal van omgee. Nie net het die mense met die uitstorting van die Heilige Gees gehoor hoe die evangelie in hul moedertaal verkondig word nie, hulle is ook diep geraak en het anders begin lewe.
In ons gelese gedeelte sien en hoor ons hoe omgee vir mekaar en ander ’n taal word wat die eerste gelowiges goed geken het. Op daardie tydstip was daar groot nood in Jerusalem, en die gelowiges het na mekaar omgesien. Dit wat hulle gehoor het aangaande Jesus Christus het daartoe gelei dat hul geloof sigbaar geword het. Hulle het alles met mekaar gedeel. Hulle is diep geraak deur die boodskap dat Jesus die Christus is, die Messias wat lank verwag is. Hulle is so diep geraak deur die apostels se getuienis dat hulle nie anders kon nie as om mekaar te help.
Dit is asof die woorde in Matteus 25:40 deur hul optrede ’n werklikheid geword het: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen. Dit wat hulle gehoor het, het hulle gedoen. Christus se omgee het in hul lewe sigbaar geword. Christus se offer aan die kruis het hulle gemotiveer om in dankbaarheid opofferings vir mekaar te maak.
Hoe lyk ons omgee vir mekaar? Ons lees in Jakobus 2:17 dat geloof wat nie oorgaan in dade nie, dood is. Die taal van omgee is noodsaaklik. Ons moet die evangelie van Christus met mond en hand verkondig. Ons sing so maklik dat die Here ons hande diensbaar moet maak, en tog gebeur dit dikwels maar moeilik. Mag die liefde van Christus deur ons vloei en mag ons omgee vir mekaar.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas