Dagboek 2021 – 4 Mei
Krisisgebore visie
Bybelteks(te)
PSALMS 46
God is vir ons 'n toevlug
Baie geleerdes meen dat Psalm 46 ’n beskrywing is van die gebeure waarvan ons in Jesaja 34-37 lees. Plaas jouself in die skoene van ’n verdediger van Jerusalem. Die stad word beleer deur Sanherib se weermag en hulle beplan om met dagbreek die stad aan te val. Die situasie lyk wanhopig. Maar wonder bo wonder is die vyand se kamp die volgende oggend verlate. Tot vandag is die rede vir Sanherrib se skielike terugval onbekend. Maar vir die Psalmdigter is die saak duidelik. God het die stad gered. God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood (vers 2).
Psalm 46 is geskryf te midde van onrus en ’n oorlog wat die bestaan van die volk Israel bedreig het, maar dit beskryf ’n beeld van vrede oor die hele aarde en die vernietiging van alle wapens (vers 10). Wat het hierdie visie geïnspireer? Nie die een of ander politikus of magtige oorlogsheld nie, maar God wat sal intree. Die mens is nie die enigste speler in die wêreldgeskiedenis nie. God bepaal die toekoms van die wêreld.
Die wonder van die evangelie is dat swaarde reeds in ploegskare gehamer word. Met die koms van die Here Jesus het God finaal ingegryp in die wêreld se geskiedenis. Sy vrederyk is aangekondig. Daarom kan ons ons gespartel stopsit. Ons kan bedaar en erken dat Ek God is (vers 11).
Ds Willem Dreyer, Delareyville