Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 4 November

’n Nuwe lied

Bybelteks(te)

PSALMS 96

Die Here kom om oor die aarde te heers

1Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here,

sing tot eer van die Here, almal op aarde!

2Sing tot eer van die Here, prys sy Naam,

verkondig elke dag sy reddingsdade!

3Vertel die nasies van sy mag,

al die volke van sy magtige dade.

4Die Here is groot, al die lof kom Hom toe,

ontsagwekkend is Hy bo alle gode.

5Al die gode van die volke is niks:

dit is die Here wat die hemele gemaak het.

6Majesteit en luister straal van Hom uit,

krag en glans vul sy heiligdom.

7Prys die Here, alle volke,

prys die Here om sy eer en mag!

8Prys die Here om die eer van sy Naam!

Kom na sy voorhowe toe, bring vir Hom offers!

9Buig voor die Here by sy heilige verskyning;

betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.

10Verkondig onder die nasies: “Die Here regeer;

die wêreld staan vas, dit wankel nie;

die Here sal die volke regverdig oordeel.”

11Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig,

die see en alles daarin moet druis,

12die veld en alles daarop moet jubel,

al die bome in die bos moet hulle verheug

13voor die Here, want Hy kom,

Hy kom om oor die aarde te heers.

Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,

oor die volke met billikheid.

PSALMS 96:1-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Here is Koning. Die koms van sy wêreldwye heerskappy is groots en nuut en moet deur almal en alles besing word.

Die volk Israel het met hul bevryding uit Babiloniese ballingskap beleef dat God as wêreldwye heerser na sy volk toe kom. Die nuwe lied word verbind aan die ervaring van God se wêreldheerskappy met die bevryding van die verontregtes en die verwagting van ’n ryk van vrede. Die uitdrukking ’n nuwe lied verwoord iets van die koms van die ewige Godsryk. Dit bring ons by die uitsig op die nuwe aarde en die nuwe hemel. Juis met die oog op hierdie reddende genade van God, moet die Here geprys word. Almal en alles moet juig en bly wees, want Hy heers regverdig en billik oor die hele aarde.

Die koms van God se grootse en wêreldwye heerskappy word besing in die lied wat by uitnemendheid nuut is. Die blye boodskap van verlossing in Jesus Christus openbaar God se absolute heerskappy oor alle dinge. Die uitdrukking ’n nuwe lied word onomwonde met die eindtyd verbind. In Openbaring 5 beskryf die siener hoe daar in die regterhand van Hom wat op die troon sit ’n boekrol was. Die boekrol is met sewe seëls verseël en niemand was bevoeg om die seëls te verbreek nie. Dan kom die Lam, Christus, en neem die boekrol van Hom wat op die troon sit. Daarom hef die hemelwesens ’n nuwe lied aan en sing: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak…

Die agtergrond van die nuwe lied is altyd die redding van God in Jesus Christus. Dit gaan oor ’n verlossende daad van God se kant met die uitsig op ’n nuwe era. Ons lewe moet ’n lied wees tot eer van die Here. ’n Lied oor die groot gebeurtenis wat altyd nuut bly. ’n Lied oor die koms van God in Jesus Christus. Hy kom; Hy, die majesteitlike Regeerder en regverdige Regter. Ons moet dit vertel, dit aan al die volke verkondig.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS