Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 5 Desember

Vrede, vrede, nogmaals vrede!

Bybelteks(te)

LUKAS 1

68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,

want Hy het sy volk in genade opgesoek

en vir hulle verlossing bewerk.

69'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan

uit die huis van sy dienaar Dawid.

70So het die Here dit reeds

van oudsher belowe

deur die mond van sy heilige profete:

71om ons te verlos van ons vyande

en uit die hand van al ons haters;

72om Hom te ontferm oor ons voorvaders

en sy heilige verbond te onthou.

73Met 'n eed het Hy dit bevestig

aan ons voorvader Abraham

dat Hy sou gee dat ons,

74gered uit die hand van vyande,

Hom onbevrees kan dien

75in vroomheid en opregtheid

al die dae van ons lewe.

76“En jy, kindjie,

'n profeet van die Allerhoogste

sal jy genoem word,

want jy sal voor die Here uit gaan

om sy pad gereed te maak,

77om kennis van verlossing

aan sy volk mee te deel:

verlossing deur vergifnis van hulle sondes,

78danksy die genadige ontferming van ons God.

Soos die môreson sal Hy opgaan

en uit die hoogte op ons afstraal,

79om lig te bring aan dié wat in duisternis

en in die skaduwee van die dood lewe,

om ons voetstappe te rig

op die pad van vrede.”

LUKAS 1:68-79AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sagaria se loflied sou by baie van Lukas se hoorders aanklank kon vind, ook by ons. Ja, ons verwag ook die Verlosser, nes die volk van ouds. Wag dat Hy vrede sal bring in ’n wêreld wat dit so broodnodig het. In Adventtyd gaan dit om die Gees van God wat in die realiteit van die wêreld inbreek en die mens se hart kom verander. Dat God deur die Persoon van Jesus neerdaal en vrede bring in ’n tyd van onvrede en onmin.

Hierdie lied herinner die leser aan al God se beloftes in die verlede: ’n belofte aan Dawid dat iemand uit sy nageslag die Messias sal wees. Die beloftes aan die volk van redding uit die mag van die vyande. Die belofte van verlossing uit alle gevaar. En hierdie beloftes bied dan uiteindelik vir die leser die vryheid om God lief te hê en God in heiligheid te dien.

Dit wat Sagaria hier sing, verkondig dat hierdie beloftes van God in die geboortes van Johannes en Jesus sal aanbreek:

  • In Johannes deur in die lig van God se aangesig te wandel sodat die deur na sy teenwoordigheid al wyer sal oopgaan.
  • In Jesus deur die redding en versoening wat sy uiteindelike kruisdood sou bring, en veral in sy hier-wees en naby-wees as Immanuel.

Dit is wat Johannes die Doper met sy bediening sou verkondig; dit is waaroor Sagaria gesing het. Vrede! Hierdie Jesus-kind wat op pad is, sal vrede bring vir alle mense. Johannes die Doper sou die weg voorberei sodat die mense ontvanklik sou wees wanneer die vrede op pad is. God het in Christus die vrede wat ontbreek het, herstel. Vrede tussen God en mens, vrede ook tussen mens en mens.

Leef in die vrede van Jesus! Al wag ons nog op sy koms, het ons reeds die vrede wat Hy gebring het. Ons leef daarin en moet dit met ander deel. Die vrede wat Christus bring, is immers vrede met God self.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS