Dagboek 2021 – 5 Junie
Die Heilige Gees en dapperheidstaal
Bybelteks(te)
HANDELINGE 7
Stefanus word gestenig
In hierdie tyd na Pinkster kyk ons na die werk van die Heilige Gees, en vandag luister ons na die taal van dapperheid waarmee die Heilige Gees met ons praat. Soos wat die mense op die dag van die pinksterfees die evangelie in verskillende tale gehoor het, so moet ons ook die evangelie in verskillende tale hoor en uitleef.
Stefanus was een van die eerste diakens in die vroeë kerk. Hy was so geïnspireer deur dit wat met die uitstorting van die Heilige Gees gebeur het, dat hy nie anders kon nie as om die evangelie van Jesus Christus met almal te deel. As diaken het hy nie slegs kos en klere uitgedeel nie, hy het die goeie boodskap van Christus se opstanding tydig en ontydig verkondig. Die krag van die Heilige Gees het Stefanus in so ’n mate vreesloos gemaak, dat hy nie geskroom het om die optrede van die Joodse Raad te veroordeel nie. Hy was nie bang nie om hulle daarop te wys dat hulle hardkoppig volhard het teen die evangelie van Christus.
Dit het hom in konflik met die Joodse Raad gebring en daartoe gelei dat hulle hom gestenig het. Stefanus was egter onwrikbaar en standvastig in sy geloof. Hy was so oortuig daarvan Jesus die Messias was, dat hy nie bang was vir die Joodse Raad nie. Hy het elke geleentheid gebruik om met ander oor Christus te praat. Stefanus was ’n dapper gelowige, nie bloot omdat dit van homself afgehang het nie, maar omdat die Heilige Gees deur hom gewerk het. Die krag van die Heilige Gees het hom vreesloos gemaak.
Is ons bereid om tydig en ontydig oor Christus te praat? Gebeur dit dat ons somtyds swyg wanneer ons moet getuig dat Jesus die Here is? Mag ons deur die krag van die Heilige Gees met vrymoedigheid getroue getuies van Christus wees. Mag ons dapper en vreeslose getuies wees.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas