Bible Society of South Africa

Dagboek 2021 – 6 Desember

Reis saam met die Messias

Bybelteks(te)

LUKAS 1

Maria besoek Elisabet

39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:

“Geseënd is jy onder die vroue

en geseënd is die vrug van jou moederskoot!

43Waaraan het ek dit te danke

dat die moeder van my Here

na my toe kom?

44Kyk, net toe die geluid van jou groet

in my ore klink,

het die kindjie in my van vreugde beweeg.

45Gelukkig is sy wat glo

dat in vervulling sal gaan

wat die Here vir haar gesê het!”

LUKAS 1:39-45AFR83Maak oop in die Bybelleser

God het aan sy verbondsvolk beloof om Iemand te stuur wat hulle sal verlos. ’n Bevryder – Een wat deur God self Gesalfde genoem sal word. Iemand wat nie net hierdie volk nie, maar die ganse mensdom sal verlos. En in Hom sal God self by sy volk wees. Daarom sal hierdie Bevryder, Redder en Gesalfde Immanuel genoem word. Die belofte van ’n Messias het die harte van die volk warm gemaak. Hulle het bly hoop en glo dat God Hom sal stuur. Maar hulle het gewonder wanneer Hy sou kom.

Toe God ’n volgende keer die belofte van die Bevryder bring, was dit aan ’n meisie. Maria. En hierdie meisie, hierdie weerlose dogter wat die belofte ontvang, kon nie glo dat God haar gekies het om die moeder van die Verlosser te wees nie. Hierdie Maria is waarlik ’n geseënde mens. Nie net oor die rol en status as die moeder van die Messias nie, maar ook oor haar vertroue in die belofte van God.

Martin Luther het gesê: God het klein geword vir ons in Christus. Hy het ons sy hart gewys sodat ons harte gewen kan word. Kersfees gaan nie oor ons nie.Dit gaan oor God! Ons enigste taak is om God groot te maak! Of om selfs soos Maria deursigtig te wees om te sien hoe groot God eintlik reeds is.

Toe haar Seun grootgeword het, het Hy vissermanne geroep. Hulle is nie geroep om in hul vissersbootjies te bly nie, maar om Hom te volg. Hulle het nie geweet waarheen nie, nie geweet wat op hulle wag nie, of hoe alles gaan uitdraai nie, maar hulle het gevolg! Hulle was op reis net soos die moeder van hul Here.

Dit is wat dit beteken om Hom te volg in die Adventtyd. Ons gaan, ons weet nie heeltemal waarheen nie, maar ons weet alles sal uitwerk solank ons naby bly aan die Een vir wie ons volg. Nou gaan dit oor God.

Ds Quinten Schimper, Krugersdorp/Krugersdorp-Wes

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS