Dagboek 2021 – 8 April
Die Here beskerm ons
Bybelteks(te)
DIE OPENBARING 3
Die boodskap aan Filadelfia
Die Grieks-Romeinse skrywer Strabo beskryf Filadelfia as ’n stad wat vol aardbewings is. In 17 nC word hierdie beskrywing bevestig toe ’n groot aardbewing die gebied tref en so ’n groot deel van Filadelfia vernietig. Anders as die stede van Pergamum en Efese, was Filadelfia se inwoners nie ryk genoeg om die stad vinnig te herbou nie. Die gevolg was dat die mense vir baie lank in klein wonings buite die stad gebly het en geweier het om weer in hierdie stad in te gaan uit vrees dat die geboue ineen gaan stort. Maar dit beteken nie dat die stad nie herbou is nie.
Daar was ’n gebruik in die Romeine Ryk dat die ryk en aansienlike families en individue skenkings aan stede sou maak vir bouprojekte en herstelwerk wat gedoen moes word. Die wyse waarop hierdie stede dan die rykes sou terugbetaal, was om pilare en stene op te rig waarop die skenker se naam aangebring sou word. Maar hierdie stene en pilare was meer as net ’n teken van dankbaarheid. Aan die een kant was die pilare ’n manier om die eer van die skenkers te besing. Almal sou kon sien wie die persoon is wat bedank moes word dat die stad staande bly. Aan die ander kant sou dit ook as getuienis dien om te verkondig onder wie se beskerming die stad staan.
Johannes sluit by hierdie gebruik aan wanneer hy sy brief aan die gemeente in Filadelfia rig. Die gemeente word verseker dat die Here weet hulle leef in moeilike omstandighede, maar tog bly hulle getrou aan God, en daarom sal die Here hulle bewaar en bystaan (Op 3:10). Dit word bevestig wanneer beloof word dat die Here hulle ’n pilaar in die tempel van God sal maak, nie met die naam van ’n ryk skenker op hulle nie, maar met die Naam van God self (Op 3:12). So leef die gemeentes in Filadelfia – en ons – ons lewens, tot eer van God en onder die beskerming van God!
Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria