Dagboek 2021 – 9 Desember
God se menswording was beskeie
Bybelteks(te)
PSALMS 97
Vir die regverdiges het daar lig gekom
In Psalm 97 het ons die beskrywing van ’n Godsverskyning – eintlik die begeleidende verskynsels van weerlig, aardbewings en vulkaniese uitbarstings (vgl Eks 19: 18). Kragtig en vreesaanjaend moes dit destyds vir die mense gewees het, want hulle het nie wetenskaplike verklarings daarvoor gehad nie.
God se verskyning in ons Psalm verskil van dié tydens die wetgewing by die berg Sinai waar dit afgestem was op die volk Israel. In ons Psalm is dit egter al die volke wat getuies is van die verskyning. God se koningskap kry in hierdie Psalm ’n universele karakter – die hele aarde en alle volke erken God nou as Koning.
Is God se verskynings altyd so kragdadig en angswekkend? Nee, God se verskyning kan ook aanleiding gee tot ongekende vreugde en blydskap. Kersfees word wêreldwyd gevier, want die mens snap iets van die misterie dat die verborge God die hemele skeur en in Christus mens word.
So kragdadig en angswekkend as wat die Godsverskynings in die Ou Testament was, so beskeie, sagmoedig en eenvoudig is hierdie verskyning, die geboorte van die Christuskind. Maar onthou: God is Koning, Hy regeer, die hele wêreld moet hieroor juig en bly wees. Christus is hierdie Koning wat met mag en heerlikheid beklee is.
Ons kan dit stamelend bely dat Christus Koning is – dit is een en dieselfde ding om Hom as Here te bely. Hierdie Christuskind is die Regverdige wat sy regverdigheid nie vir Homself gehou het nie, maar ons daaraan laat deelkry. Ons wat dit nie verdien het nie, word regverdig verklaar en vrygespreek.
By hierdie Koning is daar ’n welwillendheid en ’n vriendelikheid teenoor elkeen van ons – niemand word uitgesluit nie. Die feit dat Hy ons oorgesien het, ons vergewe het, dit het ons harte verander. Sy optrede teenoor ons bepaal nou ons gesindheid en optrede teenoor ander. Hy maak ons mensliewend, Hy maak dat ons ook genadig is in die beoordeling van ander se foute en misstappe.
Gesang 326: 1-2