Dagboek 2021 – 9 Junie
Julle sal die Heilige Gees ontvang en my getuies wees
Bybelteks(te)
HANDELINGE 1
Die belofte van die Heilige Gees
Die vier Evangelies vertel die verhaal van Jesus se geboorte tot en met sy sterwe en opstanding. Dan kom die Handelinge van die Apostels met die uitstorting van die Heilige Gees en die ontstaan van die eerste gemeentes. Handelinge dek die eerste 30 jaar na die uitstorting van die Heilige Gees. Lukas verwys na die Lukas-evangelie wat hy geskryf het as die eerste boek en die Handelinge van die Apostels as die tweede boek. Albei hierdie dokumente het hy aan Teofilus opgedra. Laasgenoemde se naam beteken die een wat God liefhet. Dit was ’n algemene naam, wat kan beteken dat Lukas die enigste evangelis is wat sy werk aan ’n spesifieke persoon opdra. Dit kan ook simbolies verstaan word asof hierdie Evangelie geskryf word aan almal wat vir God liefhet.
In Handelinge leer ons soveel van die aard van die kerk en hoe gelowiges te werk moet gaan om die wêreld na God te keer. Die Heilige Gees is teenwoordig en dit is die sleutel. Lukas begin om na die dissipels as ooggetuies te verwys. Dit versterk die geloofwaardigheid van wat hy skryf. Ons lees en leer, 20 eeue later, steeds van geloofwaardige getuies, en dit behoort ons te versterk.
40 dae na Paassondag (Opstanding) vier ons Hemelvaart, en nog tien dae daarna Pinkster. Alhoewel dit amper in ’n oogwink aan die einde van die Lukas-evangelie afspeel, word dit hier breedvoerig beskryf. Die dissipels se lewens het met die hemelvaart drasties verander, en in die 40 dae daarna verskyn Jesus weer aan hulle en bevestig die verandering wat in hulle gebeur het. Hulle kry nog 40 dae om hulle voor te berei op die uitstorting van die Heilige Gees, waar hulle toegerus word met die Heilige Gees en uitgaan om getuies van God in die wêreld te wees.
Ons moet bedink hoe ons die werk van die ooggetuies kan voortsit. God gee steeds die Heilige Gees aan sy kerk om ons in staat te stel om Woordgetuies te wees.
Ds Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein