Die Heilige Gees – Dag 15
Die Heilige Gees as Outeur
Bybelteks(te)
2 PETRUS 1
Gister het ons daarop gefokus hoe die Heilige Gees Jesus se dissipels, van toe en nou, herinner aan sy leringe en van die waarheid van die Skrif. Vandag kyk ons na die realiteit dat Hy die Bron en die Inspirasie is en dat elke skrywer in die uitvoer van sy taak deur die Heilige Gees gedra word. Hierin lê die krag van die Bybel, die woord van God, wat op elke vlak van ons menswees tot hart en verstand spreek en daarom anders is as enige ander boek wat nog ooit geskryf is. Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Timotheus 3:16-17). Die Bybel is tot boordens toe vol teologie, geskiedenis, profesieë, gedigte en verhale, en die belangrikste — die weg tot verlossing deur Jesus Christus.
Ander noemenswaardige persone het ook die belangrikheid van die Bybel en sy effek op die wêreld erken. George Washington, die eerste president van die Verenigde State van Amerika, het gesê: “Dit is onmoontlik om die wêreld sonder God en die Bybel behoorlik te regeer.” Horace Greeley, redakteur van die New York Tribune, het gesê: “Dit is onmoontlik om mense wat die Bybel lees op geestelike of sosiale vlak te onderwerp. Die beginsels van die Bybel is die grondslag van menslike vryheid.” Immanuel Kant, die Duitse filosoof, het gesê: “Ek glo dat die bestaan van die Bybel die grootste voordeel vir die mensdom inhou. Enige poging om dit af te kraak … is ʼn misdaad teen die mensdom.” Groot woorde van groot persoonlikhede.
Wanneer die Heilige Gees ʼn individu of groep inspireer, toon Hy die regte begrip vir die behoefte in die gegewe situasie. Hy maak nie net ʼn behulpsame voorstel wat miskien sal werk of nie, maar aangesien Hy die Woord volkome ken, is Hy daartoe in staat om die waarheid direk tot die hart en verstand van ʼn persoon te spreek, nie as ʼn mens wat behulpsaam wil wees nie, maar as God met volmaakte kennis.
Ons kan dus nou met ons geloofsoog die potensiaal hierin sien, terwyl ander in die geskiedenis reeds hieruit voordeel getrek het. Paulus verwys na die effek wat die Skrif op sy jong medewerker, Timoteus, gehad het. Hy skryf: “Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is …” (Filippense 2:20-22).
Aan Timoteus skryf hy: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timoteus 3:14-15).
Dit is ook waar vir ons.