Die Heilige Gees – Dag 17
Die Heilige Gees, die Bemiddelaar
Bybelteks(te)
ROMEINE 8
Vandag se teks help ons om te verstaan hoe belangrik ons gebede vir God is. Ons weet dit want Hy erken ons beperkinge en reik uit na ons deur die Heilige Gees wat ons op ʼn baie wonderlike en diepsinnige manier help. Terwyl Christus ons harte deurgrond, pleit die Heilige Gees vir ons sodat ons gebede vir God aanvaarbaar kan wees volgens sy wil.
Die Christelike lewe beteken ʼn vreugdevolle wandel met Christus in ʼn nuwe lewe, maar tegelykertyd ʼn stryd teen die duiwel wat voortdurend rondloop “soos ʼn brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Petrus 5:8). Ons is swak en kan hom nie uit eie krag verslaan nie. Ons het God se hulp nodig om standvastig in die geloof te bly en hom (die duiwel) teë te staan (1 Petrus 5:9) en sy voortdurende aanvalle te verydel.
Gebed is dus noodsaaklik om as ʼn oorwinnaar ʼn Christelike lewe te kan lei. Deur gebed leer ons om deur volharding, geloof en vertroue die stem van die Here te hoor. Die ironie is egter dat ons swak is in presies dit wat ons sterk kan maak, gebed, en net soos sy dissipels wat in die tuin van Getsemane aan die slaap geraak het, vind ons dit ook moeilik. Sommige Christene sê dat hulle nie kan bid nie, maar Martin Luther weerlê dit. Hy het gesê: “Om ʼn Christen sonder gebed te wees, is net so onmoontlik as om te lewe sonder om asem te haal.” Hy het geweet dat ʼn gebedsverhouding met die Here noodsaaklik is en dat die Christen daarsonder nie die strikke van die duiwel sal kan vermy nie.
Alhoewel ons soms nie die nodige vertroue het om te bid nie, moet ons onthou: “die Gees staan ons ook in ons swakheid by.” Selfs as ons nie weet wat om te bid nie, verstaan die Heilige Gees ons diepste wese en volgens die wil van God pleit Hy vir ons en bring ons in die teenwoordigheid van God. Dikwels wanneer ons baie sterk oor ʼn saak voel of in pyn is het ons nie woorde om te bid nie en kan ons maar net voor God sug in ons pyn. Dit is dan dat die Heilige Gees oorneem.
John Bunyan het by geleentheid gesê: “Wanneer ʼn mens bid is dit beter om ʼn hart sonder woorde te hê as woorde sonder ʼn hart.” Kom ons skep moed want ons weet dat “die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God” (1 Korintiërs 2:10).