Die Heilige Gees – Dag 6
Die Heilige Gees bring geregtigheid deur genade
Bybelteks(te)
MIGA 3
MIGA 6
Ons het reeds Bileam se ondervinding met sy donkie bespreek en sy gretigheid om na Moab te reis terwyl God hom duidelik verbied het om teen die Israeliete te praat. Dit skok ons miskien dat hy die beloning van ʼn aardse koning bo gehoorsaamheid aan God verkies het — God wat gehoorsaamheid ryklik beloon. Maar ʼn mens se eie wil en gierigheid kan soms veroorsaak dat jy goeie oordeel verloor. Ons mag selfs erken dat dit moeilik is om die eie wil en planne eenkant te sit wanneer die Here ons roep om aan Hom gehoorsaam te wees, en soos Bileam met sy donkie, vaar ons soms uit teenoor die persoon wat die Here wil gebruik om ons te bereik, alles omdat ons nie die groter prentjie sien nie.
Vandag fokus ons egter op ʼn profeet wat nie toegelaat het dat sy eie wil in die pad staan van God se doel met hom nie. Miga was getrou aan die Here en het hom verbly in die krag en geregtigheid van die Gees van die Here in hom.
God het Miga gebruik om sy kinders in Israel en Juda met hulle sonde te konfronteer. Hierdie was sondes soos ongeregtigheid, onvriendelikheid, afgodsdiens en oneerlikheid in aanbidding. Miga het onmiddellik hierdie reuse taak aanvaar om hulle te waarsku oor God se naderende oordeel. Hy het egter ook baie positief gepraat oor God se groot liefde en genade vir diegene wat hulle sondes bely, gehoorsaam aan Hom is en hulle naaste liefhet.
Miga het hoop en vrede ervaar want hy het besef dat sy krag van die Gees van God kom, en hy het hom verbly oor God se genade en krag om diegene wat jammer was oor hulle sondes te vergeef: “Wie is ʼn God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde” (Miga 7:18).
Kom ons kyk wat is vir ons die belangrikste: blydskap oor geregtigheid en vrede soos Miga ervaar het, of, soos Bileam, verterende ambisie, krag en rykdom wat ons oë verblind wanneer die Here probeer om ons op die regte pad te lei. Ek dink nie ons wil Hom voor ons sien staan met ʼn swaard in die hand om ons te keer om teen sy wil te gaan nie, of hoe?
“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spreuke 9:10). Ons kan miskien nie die Here hoor praat in ʼn stem wat ons met ons ore kan hoor nie, maar soos ons sy Woord, die Bybel, beter leer ken en verstaan, ontdek ons dat ons wel sy wil vir ons lewens kan onderskei en deur die krag van die Heilige Gees in geregtigheid met Hom kan wandel.