Die rol van bome in die Bybel – Dag 2
Soos ʼn boom (vervolg)
Bybelteks(te)
JEREMIA 17
Gister het ons gepraat oor hoe ons as Christene soos bome moet wees. Ons moet deur God geplant word en ons moet produktief wees en goeie vrugte dra. Daar is twee verdere kenmerke van bome waarvan ons kan leer — bome is ʼn lus vir die oog en hulle floreer.
Bome is ʼn lus vir die oog. Kyk na die woorde in Jeremia: “en altyd groen blare het”. Nie net sal hierdie boom wat by water geplant is vrugte dra nie, maar sy blare gaan nie verdroog nie. Hoekom het ʼn boom blare? Daar is verskeie wetenskaplike redes, maar daar is ook ʼn eenvoudige rede — ʼn boom het blare om dit mooi te laat lyk. Bome is bedoel om mooi te lyk; hulle is dikwels daar om die droë en lelike landskap te verfraai.
Bome wat by waterstrome geplant is het ʼn voortdurende bron van lewe en is vol groen blare wat nie verdroog nie. Hulle is welig en altyd mooi.
Ons as Christene het ons eie bron van lewe — die Heilige Gees. Niks is mooier as ʼn Christen wat onder leiding van die Heilige Gees leef nie.
Bome is voorspoedig. Die boom in Jeremia is nie bekommerd gedurende die warm, droë seisoen nie. Hy stuur sy wortels uit na die stroom en bekommer hom nie oor die droogte nie.
Miskien ken jy iemand wat hom of haar op die oog af oor niks bekommer nie, altyd glimlag of loop en sing. Dit is nie dat die wêreld sulke persone nie raak nie; hulle merk dit net nie op nie want hulle is naby aan die water.
Die Here is ons bron. As ons ons vertroue in Hom stel, het ons nie nodig om bang te wees nie.