Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Die rol van bome in die Bybel – Dag 7

Die vyeboom (deel 3) — net boom en geen vye

Bybelteks(te)

MARKUS 11

Jesus vervloek die vyeboom

12Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. 13Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. 14Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”

Sy dissipels het dit gehoor.

MARKUS 11:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit klink so onregverdig! Hoe kon Jesus ʼn vyeboom vervloek omdat hy geen vye dra nie terwyl dit nie vyetyd was nie? Om dit te verstaan moet ons so ʼn bietjie meer van vyebome weet, asook die konteks van hierdie verhaal.

Wanneer blare aan die begin van die lente verskyn, begin die boom ook om klein vruggies (voorvye) te dra. Hierdie is nie die werklike vye nie, maar ʼn soort voorloper van die ware vye wat so ses weke later sal verskyn. Maar indien die blare sonder enige van hierdie voorvye verskyn, is dit ʼn teken dat die boom geen vye gaan dra nie. Aangesien Jesus net blare gevind het, was hierdie ʼn hopelose vrugtelose vyeboom.

Die ander sleutel om hierdie gelykenis te verstaan is in die laaste sin van die teksvers: “Sy dissipels het dit gehoor.” Die dissipels het die Ou Testament geken en hulle sou verstaan het dat die vy ʼn simbool is van beide God se veroordeling sowel as van die volk van Israel.

Die dissipels het verstaan dat Jesus nie kwaad was vir ʼn plant omdat hy honger was nie — Hy was kwaad vir Israel omdat hulle geen geestelike vrugte gedra het nie. Israel was net soos hierdie vrugtelose vyeboom. Hulle het al die uiterlike tekens van ʼn geestelike lewe gehad, maar geen vrugte gedra nie.

Daar is ʼn boodskap hier vir ons. Wanneer Jesus jou lewe ondersoek (en Hy doen dit), wat sien Hy? Dra jy vrugte tot eer van God? Of is jy net ʼn boom vol blare, maar sonder vrugte?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS