God se genade, liefde en krag – Dag 10
Hy roep jou (2)
Bybelteks(te)
LUKAS 19
Saggeus wou dalk uit nuuskierigheid vir Jesus sien, maar hy het nooit gedink dat sy lewe daardie dag totaal sou verander nie. Hy het nie voorsien dat Jesus hom sou (uit)soek en ʼn versoek tot hom rig nie: “Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Saggeus, Ek wil graag deel van jou lewe wees.
Daar is baie mense wat deur Jesus geroep word, maar wat op hulle tak bly sit. Hulle klim nooit uit die boom nie, hulle reageer nooit op die versoek van Jesus nie. Hulle sit Sondae in die kerkbank en luister, maar dit is iets wat hulle slegs (aan)hoor en wat nooit hulle hart raak nie.
Dit is nie ʼn maklike saak om te antwoord wanneer jy God hoor roep nie. Bekering is nie maar net om met ʼn gebed God in jou lewe te nooi nie. Bekering vra dat jy anders sal gaan lewe, dat jy voor God sal gaan lewe.
Saggeus het dit besef toe hy op Jesus se versoek uit die boom geklim het. Toe hulle by sy huis kom, sê Saggeus vir Jesus: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (Lukas 19:8).
Iemand het gesê dat Jesus en die sonde nie binne dieselfde menslike hart pas nie. Bekering is daarom om ook soos Saggeus jou sonde te erken en nie meer die sonde te wil doen of dien nie (Romeine 6:12). Met Jesus in jou lewe kan niks meer dieselfde in jou lewe bly nie – dan verander alles. Jou houding teenoor God en teenoor jou naaste is dan anders.
Wanneer dít gebeur, kan Jesus ook vir jou sê wat Hy vir Saggeus gesê het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom” (Lukas 19:9).