Bible Society of South Africa

God se genade, liefde en krag – Dag 2

God bewys God self

Bybelteks(te)

HEBREËRS 1

Die uitnemende grootheid van die Seun van God

1In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

HEBREËRS 1:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Met die aanbreek van die somer raak die miere meer aktief. Skielik was daar in my huis op verskillende plekke miere wat in lang toue loop. Ook in my koskas. Dit wat ek kon, het ek in plastiekhouers gesit, maar die miere het nie verdwyn nie. Einde ten laaste het ek die koskas uitgepak, gewas en om die deure van die kas gespuit. Ek wou dit nie graag doen nie, maar hoe sê ek vir die miere dat hulle nie in my koskas welkom is nie?

ʼn Mens wens jy kan op ʼn ander manier met die miere werk – vir hulle vertel dat jy hulle vriend is en dat jy hulle graag wil help. Jy gaan lank wag totdat ʼn mier na jou opkyk en vir die ander gaan vertel dat hy kan bewys dat jy bestaan. Dit gaan nooit gebeur nie. As die miere nie na jou wil kom nie, sal jy maar na hulle toe moet gaan. Jy sal ʼn mier moet word en dan kan jy in hulle taal jou bestaan en boodskap oordra.

Dit is presies wat God met ons as mense gedoen het. God het self ʼn mens geword en Hom aan ons bekend gemaak. Die geleerde woord is “openbaar”. God onthul Homself.

Ons bewys dus nie God nie. God bewys Homself – in die natuur, in die Bybel en veral in Jesus Christus. Wanneer ʼn mens goed na Jesus kyk, kan jy sien wie God is. Soos wat ʼn mens ʼn skilder deur sy skilderye leer ken, so leer ken ʼn mens God deur Jesus Christus (Johannes 14:9).

Bible Society of South Africav.4.26.7
VOLG ONS