God se genade, liefde en krag – Dag 6
Hy het jou gemaak
Bybelteks(te)
KOLOSSENSE 1
Jou lewe kom van God – dit is ʼn geskenk van Hom. Ek hoop dat jy bly is oor jou lewe en dat jy die lewe geniet. En dat jy jou lewe gebruik vir dít waarvoor God dit vir jou gegee het.
Maar wat nou as jy nie bly is oor die lewe wat jy het nie? Dit is nie dat jy nie wil leef nie, maar jy wens gewoon dat jy ʼn ander lewe gehad het. Dan was jy dalk meer musikaal as wat jy nou is; dan was jy miskien nie so kort en rond soos jy nou is nie; dan het jy dalk nie finansieel so gesukkel nie. En so sou elkeen sy lysie kon maak.
Ongelukkig kan ʼn mens nie jou lewe omruil nie. Menslike lewe werk nie so nie. Jy kan nie jou lewe vir God teruggee en ʼn ander een vra nie. Daar is maar een oplossing: Jy moet jou lewe aanvaar soos dit is. ʼn Mens sou ook kon sê: Jy moet jouself aanvaar soos jy is.
Daar is geen sin daarin om jouself as waardeloos en ongewens te sien nie. Voor God is niemand waardeloos nie. Inteendeel, vir God is jy kosbaar, Hy aanvaar jou sonder voorwaarde (Psalm 139:13-18). Hy het selfs sy Seun in jou belang laat sterf (Romeine 8:32). Hy wil graag hê dat jy gelukkig moet leef. Hy gee voordat jy nog iets kan vra wat jy nodig het om te leef. Hy gee voordat Hy iets van jou eis.
Leer om sy genade, liefde, krag en nog baie ander gawes elke dag te ontvang. Hoe meer jy dit begryp, hoe beter sal jy jouself met jou eiesoortige lewe kan aanvaar. En uiteindelik van jouself hou.