God se genade, liefde en krag – Dag 7
Hy hou van jou (1)
Bybelteks(te)
LUKAS 19
Iemand vertel hoe sy oom hom jare gelede altyd vir ʼn goeie skoolrapport beloon het. Vir 60 persent het hy vyf rand gekry, vir 70 persent tien rand en vir 80 persent vyftien rand. Hy was gelukkig om altyd 80 persent te kry. Maar een keer kon hy dit nie behaal nie. Hy het gedink, nou ja, daar gaan my vyftien rand. Maar sy oom het gesê: “Omdat jy moet weet dat jy ook van waarde is sonder dat jy 80 persent gekry het, gee ek tog vir jou die vyftien rand.”
Hierdie insident vertel hoe God oor ons voel. Wie ons ook al is, hoe ons presteer of nie presteer nie, voor God het ons altyd waarde.
ʼn Mens hoor van ouers wat erg negatief op hulle kinders se minder goeie rapporte reageer: “Jy sal ook nêrens kom nie! Kan jy niks goeds doen nie?” Ongelukkig merk ʼn mens soortgelyke negatiewe uitsprake ook tussen ouers en paartjies op. Wanneer mense met sulke negatiewe kommentaar gebombardeer word, sal hulle naderhand wel dink dat hulle vir niks goed is nie. Ontvangers van sulke kritiek voel asof hulle verwerp word. Dit bring pyn.
Sulke ervarings kan jou lewenslank bybly en daartoe bydra dat jy dinge van jouself glo wat glad nie waar is nie – dat jy min werd is.
Saggeus het ook gedink hy is min werd. Hy skuil in ʼn boom agter die blare. Maar Jesus dui aan dat Hy Saggeus nodig het. Miskien kan jy dit ook nie glo nie, maar Jesus het jou nodig.
Ook jy het gawes en talente ontvang. Gebruik dit. Dit sal jou gevoel van eiewaarde goed doen. Iemand het gesê dat as jy jou gawes en talente nie gebruik nie, lyk jy soos iemand wat geld oppot. Daarmee doen jy jouself én ander tekort.