Bible Society of South Africa

Groei ’n Geestelike Tuin – Dag 11

Om te besnoei is ‘n daad van geloof.

Bybelteks(te)

MARKUS 10

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

22Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

MARKUS 10:21-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

12Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

FILIPPENSE 4:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ʼn wêreld waar een persent van die bevolking op aarde 80 persent van die natuurlike hulpbronne verbruik terwyl die res onder die broodlyn leef, is dit nodig dat ons ernstig oor ons leefwyse nadink.

As jy werklik omgee vir die wêreld wat God geskep het is dit nodig om jou doelbewus toe te lê op ʼn eenvoudiger leefstyl. Hierdie gedagte aan ʼn lewe van eenvoud is nie nuut nie. Reeds in die Bybel kom ons agter hoe moeilik dit is om vir hierdie soort lewe te kies. Die ryk jong man in die Lukasverhaal kry die geleentheid om te kies vir eenvoud en die kans op ʼn dieper geestelike lewe. Hy het nie daarvoor kans gesien nie, en draai om en loop in die nag in. Dit was sy keuse.

Jy het ook ʼn keuse. Om jou los te maak van ʼn oorvloed materiële besittings en ʼn eenvoudiger leefstyl te kies, is nie bloot ʼn finansiële besluit nie. Dis ʼn geestelike besluit wat jou in ʼn totaal ander verhouding met jou medemens en die omgewing plaas. As dit vir jou moeilik is om eensklaps van alles afstand te doen, groei daarin deur tevredenheid aan te kweek. Pasop vir reklame wat die sug na meer aanmoedig. Voed jou siel met eenvoudige dinge – bv. goeie musiek. Leer om die stilte op te soek. Begin ʼn stokperdjie saam met jou man, vrou of kinders. Kweek rose of leer die name van elke boom in jou tuin ken. Memoriseer tekste uit die Bybel in plaas van popliedjies. Of gebruik jou vryheid jou talente terug te ploeg in jou gemeenskap.

As jy besluit om ʼn eenvoudiger leefwyse te kies doen dit uit sensitiwiteit teenoor jou naaste en toewyding aan God, nie uit skuldgevoelens of om jouself te vrede te stel nie.

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS