Hoe om te leef – Dag 16
Hoop in vertwyfeling.
Bybelteks(te)
PSALMS 42
JESAJA 49
In die lenteseisoen wanneer nuwe lewe in die natuur deel het aan die sigbare vertel van God se skeppingskrag, dink ‘n mens selde aan droogtetye wat die mooi kan verskroei. Wanneer dit tóg eendag gebeur, word verlepte blare, dooie blomme en droë stof wat deur die wind aangejaag word, ‘n uitroep vir water.
Dit is presies wat gebeur in hierdie gedig (Psalm 42:6). Droogte het toegeslaan op die menswees van die skrywer en nou roep sy dorre siel vol vertwyfeling, vrae en verlange uit na God. Hoe dan anders? Mense vra leedvermakerig vir hom waar sy God is (Psalm 42:4); hy is nie meer in kontak met God nie, want hy kan nie alleen of saam met ander gelowiges na die tempel gaan om te aanbid nie (Psalm 42:3,5); hy is ‘n balling in ‘n vreemde land (Psalm 42:7) en uiteindelik beland hy op ‘n plek dat hy vir God reguit vra waarom Hy hom vergeet het (Psalm 42:10).
Maar dan onthou hy: God was teenwoordig toe hy soveel vreugde ervaar het om mense na God se tempel te lei! Het God dan nou skielik verdwyn? Nee, Hy is ook teenwoordig op die vreemde en slegte plek waar hy Hom bevind en óók daar waar mense hom bespot oor die “afwesigheid” van sy God.
En toe breek hoop ‘n pad deur die droë kors van sy droogte. Hoop op God. Hoop op sy God – sy Helper en sy Rots.
Dié hoop motiveer hom tot ernstige selfspraak: “Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom, my God, weer loof vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring.” (Psalm 42:6, Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling)
Elke mens beleef in sy leeftyd soortgelyke omstandighede wat hom onrustig maak, laat kerm, wegkwyn en laat twyfel aan God se teenwoordigheid. Maar is dit hoegenaamd vir God moontlik om sy eie skepping, sy kind, te vergeet? Nie as ons luister na wat Hy self daaroor te sê het nie: “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet? … Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, ek het jou in die handpalms gegraveer …” (Jesaja 49:15-16)
Hierdie belofte is genoeg aansporing tot hoop vir jou omstandighede. Maak soos die digter in die Psalm: praat met jouself en betig jou swaarmoedigheid dringend en met erns; verklaar hardop jou hoop op God se vermoë om dinge te verander en neem ‘n besluit om Hom te loof – in jou nou-omstandighede en ook wanneer Hy dit verander het.