Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 1

Is jy dankbaar?

Bybelteks(te)

EFESIËRS 5

20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

EFESIËRS 5:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Tien mans is weens ʼn ongeneeslike velsiekte uit die gemeenskap verban. Hulle moes hul huise, families en toekomsdrome agterlaat vir ʼn lewe in isolasie. Dít was immers jou voorland sou jy met melaatsheid gediagnoseer word.

Die nuus dat Jesus verby hulle dorpie sou gaan, het hierdie mans met hoop gevul. Sou Hy hulle dalk kon genees? Hulle het in desperaatheid tot naby die pad gehardloop waar Jesus en sy dissipels was. Daar het hulle gaan staan en hard na Hom uitgeroep: “Jesus, groot Leermeester, kry ons asseblief tog jammer!” Van die mans het selfs pleitend in die stof gekniel met trane wat oor hulle wange vloei. Hulle het geweet dat Jesus hulle laaste hoop was om ooit weer ʼn mate van normaliteit in hulle lewens te beleef. Sou Hy aan hulle genade bewys?

Jesus het na die mans gekyk, hulle jammer gekry en geantwoord: “Gaan wys julle dadelik vir die priesters. Laat hulle julle ondersoek en gesond verklaar.” Op pad na die priesters het die mans se melaatsheid verdwyn! ʼn Oomblik wat vir hulle ʼn keerpunt was – ʼn oomblik van herstel en hernude hoop. Al tien mans is genees, en tog het net een van hulle teruggedraai om Jesus vir hierdie wondergenesing te gaan bedank.

In Efesiërs 5:20 lees ons: “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.”

As jy terugdink aan jou lewe … watter gebede is beantwoord? Waar het jy deurbrake beleef? In jou finansies? Is jou huwelik herstel? Is jy uiteindelik swanger? Is jy genees van ʼn siekte? Of het jy dalk na ʼn lang soektog eindelik werk gekry? Het jy God spesifiek daarvoor bedank of het jy soos die nege mans blindelings met jou lewe voortgegaan nadat jy ʼn wonderwerk beleef het?

Wanneer ons met ʼn dankbaarheidsingesteldheid begin leef, word dit makliker om Efesiërs 5:20 se woorde uit te leef. Ons sal God dank in die goeie, maar ook die stormagtige tye in ons lewens met die wete dat Hy steeds in beheer bly. Hy ken die toekoms en kan ook vir ons daardie keerpuntoomblik, ʼn hersteloomblik en ʼn oomblik van hernude hoop in ʼn oogwink kom bewerkstellig.

Kom ons bly dus dankbaar en hou aan om Hom te dank sodat ons ook soos daardie een man, die Samaritaan wat na Jesus teruggedraai het, kan hoor hoe Hy sê: “Jou geloof het jou gered.” Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS