Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 12

Dankbaar vir vrede

Bybelteks(te)

JESAJA 43

Jy is Myne

1Luister, so sê die Here

wat jou geskep het, Jakob,

wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,

Ek het jou op jou naam geroep,

jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie,

3want Ek is die Here jou God,

die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek gee Egipte as losprys vir jou,

Kus en Seba in jou plek.

JESAJA 43:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

In September 2008 het Orkaan Ike binne dertien dae deur Kuba, Haïti, die Dominikaanse Republiek en Noord-Amerika getrek. Die dodetal het op 195 gestaan en die skade is op $10 biljoen (sowat R150 biljoen) bereken. Van die gemeenskappe langs die kus in Texas is heeltemal deur die stormwinde en kragtige water uitgewis.

Die skade wat aangerig is, was skokkend. Twee spesifieke foto’s het egter my aandag getrek. Die eerste een was van ʼn kuslyn in Gilchrist, Texas. Al die huise langs die kuslyn is platgevee buiten een. Vreemd genoeg staan die huis regop, asof die wind en water reg rondom die huis beweeg het sonder om dit aan te raak. Die ander interessante foto is in Winnie, Texas, geneem. Die vloedwater het tot by ʼn plaashuis opgestoot, maar dié huis staan ook onaangeraak.

In ons lewens ervaar ons ook soms storms – in ons huwelike, gesinne, finansies, gesondheid of in die werkplek. Te midde van hierdie dreigende of woedende storms kan dit voel asof die storms ons gaan verswelg. Die dissipels het dit ook eens ervaar. Op ʼn skuit in die middel van ʼn woedende storm was hulle oortuig dat hulle sou sterf. Paniekbevange het hulle vir Jesus, wat deur die storm geslaap het, wakker gemaak. Hy het kalm opgestaan en met net ʼn paar woorde die storm stilgemaak. In ʼn oogwink het vrede hulle stormagtige situasie betree.

God kan vandag nog dieselfde vir ons ook doen. Hy kan ons met vrede kom vul te midde van ʼn dreigende of woedende storm – en hierdie vrede is ons krag. In Jesaja 43:1-3 sê Hy: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie … want Ek is die Here jou God …” En in Filippense 4:6-7 staan geskryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Die beste manier om perspektief in stormagtige situasies te behou, is om ons oë op God gerig te hou en te onthou wie Hy is en wat Hy kan doen. So stroom vrede terug in ons harte met die wete dat Hy in beheer is. Só hou Hy jou staande soos die huise tydens orkaan Ike, al word alles rondom jou platgevee. Kom ons maak dus vrede ons doelwit en wees in elke situasie dankbaar. God het ons immers elkeen op die naam geroep en ons behoort aan Hom. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS