Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 19

Dankbaar vir Jesus se hemelvaart

Bybelteks(te)

JOHANNES 16

7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

JOHANNES 16:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

JOHANNES 14:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

ROMEINE 8:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.

JOHANNES 14:12-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is stil, behalwe vir ʼn onderlangse gebrom in die vertrek waar die gelowiges agter ʼn geslote deur bymekaargekom het. Hulle is bekommerd. Bang. Onseker oor hulle toekoms. Gaan hulle, net soos Jesus, vervolg word? Gaan hulle vermoor word? Hoewel niemand dit hardop noem nie, maal Jesus se woorde voor sy hemelvaart deur hulle gedagtes: “Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur” (Johannes 16:7). Wie of wat is hierdie Heilige Gees, die Helper, van wie Hy gepraat het?

Meteens bars ʼn harde geluid soos ʼn stormwind in die vertrek los terwyl vuurtonge bokant elke gelowige se kop verskyn. In ʼn oogwink word die vrees met vrede vervang. Die onsekerheid met selfvertroue. Want met hierdie harde slag het hulle die Heilige Gees van God ontvang. Die Trooster, Leidsman en Helper wat hulle in staat gestel het om sonder vrees uit te gaan, groot wonderwerke te doen en selfs te sterf sodat die wêreld die goeie nuus van Jesus Christus kon hoor.

Hier is drie redes waarom ons Jesus kan bedank dat Hy weggegaan het:

Rede 1: Jesus het vir ons plek gaan voorberei

In Johannes 14:2-3 sê Jesus: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Is jy gereed as Jesus vandag sou terugkeer om ons te kom haal?

Rede 2: Jesus tree vir ons in wanneer ons na God gaan

In Romeine 8:34 lees ons: “… Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Jesus het op aarde dieselfde emosies deurgemaak wat ons vandag nog ervaar. Wanneer ons dus nie meer woorde het om te midde van ʼn uitdaging te bid nie, kan ons vir God vra om ons deur sy Heilige Gees te lei met die wete dat Jesus terselfdertyd vir ons by Hom pleit.

Rede 3: Jesus het vir ons die Heilige Gees gestuur sodat ons die Vader se krag en liefde aan die wêreld kan wys

Jesus het weggegaan sodat ons die Heilige Gees kon ontvang. En meer as dit, in Johannes 14:12-13 sê Hy: “Mense wat in My glo, sal dieselfde dinge doen wat Ek gedoen het. Ja, hulle sal meer doen, want Ek gaan nou na die Vader toe.” Die Heilige Gees doen die werk. Ons kan dus in afhanklikheid voor God gaan staan en Hom vra om ons as sy instrumente te gebruik om hierdie krag aan die wêreld te demonstreer.

Mag ons nooit vergeet waarom God sy Seun na die wêreld gestuur het nie. En kom ons dank Jesus vandag opnuut dat Hy vir ons plek voorberei en vir ons intree terwyl ons daagliks daarna streef om gehoorsaam te wees as die Heilige Gees ons in ʼn rigting lei. Dit is dalk jou geleentheid om God se liefde en krag aan ʼn gebroke wêreld te demonstreer. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS