Is jy dankbaar? – Dag 5
ʼn Offer van dankbaarheid
Bybelteks(te)
KOLOSSENSE 4
Bid en tree met wysheid op
PSALMS 50
ʼn Paar jaar gelede, net voor Paasfees, wou ons Jesus se liefde prakties aan die mense in die Kaapse Skiereiland demonstreer. Met Projek Oase by Radio Tygerberg 104fm kon luisteraars gesinne in nood via ons SMS-lyn in die ateljee nomineer. Ons het vyf gesinne uit die SMS’e gekies wat ons vroegoggend tydens die oggendprogram met ʼn geskenkbewys vir kos en klere by hulle huise gaan verras het.
Hier is ʼn uittreksel uit een van die SMS’e wat deur Simoné Solomons uit Blue Downs ingestuur is: “Ek is ʼn matriekleerling en wil graag ons huisgesin nomineer. Ons gaan deur ʼn moeilike tyd. Soms is daar niks om te eet nie. Tog bly my ma, Dianne, geweldig positief. Sy is ook ʼn vrywilliger by ʼn skool in ons omgewing waar sy help kos maak vir behoeftige kinders. Dit maak my hartseer om te sien hoe my ma met nat oë van die grond af opstaan nadat sy gebid het. My jongste broer vra gereeld wanneer die Here dan vir ons ʼn deurbraak gaan gee. My ma se antwoord bly altyd dieselfde: ‘God se tyd is die regte tyd. Nog net ʼn klein tydjie, dan gaan Hy ons lot verander …’ ”
Ons het besluit om die Solomons-gesin te gaan verras. Met ons aankoms by hulle huis in Blue Downs was Dianne, Simoné se ma, duidelik verras. Nog voordat ons vir haar kon sê waarom ons daar was, het haar geloof en dankbaarheid my reeds getref. Hierdie vrou was dankbaar, al het sy min.
Met die nuus van ʼn geskenkbewys vir kos en klere was daar trane. Dit was duidelik dat dit groot verligting sou bring. Deur haar trane het Dianne ons bedank, maar ook terselfdertyd ander mense in nood aangemoedig om aan te hou om op God te vertrou. Toe kom ons tweede verrassing: Simoné word as ʼn wenner vir ons jaarlikse Matriekafskeidprojek aangewys. Met dié projek span ons saam met borge om aan drie behoeftige matrieks die matriekafskeid van hulle drome te gee. Weer was daar baie trane.
Wat ons nie geweet het nie, was dat Dianne die naweek vóór ons besoek by verskeie plekke vir ʼn lening aansoek gedoen het. Sy wou die geld gebruik om vir Simoné ʼn rok vir haar matriekafskeid te laat maak. Elke aansoek is egter afgekeur. Terug by die huis het sy die badkamerdeur agter haar gesluit en voor God gehuil. Sy het met haar rug teen die muur gestaan en nie geweet watter kant toe nie. Nadat sy die badkamer verlaat het, het Simoné met die volgende woorde na haar gekom: “Mamma, dalk wil God nie hê ons moet ʼn lening aangaan nie. Dalk gaan Hy eensklaps vir ons voorsien.” Ons het dit nie geweet nie, maar God het haar geloof raakgesien en dit geëer.
In Kolossense 4:2 lees ons: “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar.” Ook in Psalm 50:14 staan geskryf: “Offer dank aan God …”
Wanneer bring ʼn mens ʼn offer? Wanneer dit seermaak. Wanneer bring ʼn mens ʼn offer van dank aan God? Wanneer ons Hom loof en prys te midde van ʼn woestyntyd terwyl dit baie moeilik is om dit te doen. Só herinner ons onsself aan God se vermoë om vir ons ʼn deurbraak te bewerkstellig. Die Solomons-gesin het hierdie toets deurstaan en God het hulle geloof geëer.
Vir watter deurbraak wag jy? Kom ons volhard in gebed en bly dankbaar. God mag dalk net – soos vir die Solomonse – eensklaps jou situasie kom verander. Sterkte.