Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 8

Dankbaar vir God se onvoorwaardelike liefde

Bybelteks(te)

ROMEINE 5

8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

NUMERI 14

18‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’

NUMERI 14:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie getuienis van ʼn Kapenaar het my weereens die waarde van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding laat besef:

Surina was elke dag laat vir skool. Soms het sy eers om ongeveer 10:30 by die skool opgedaag. Haar huiswerk was meestal nie gedoen nie en in die klas was sy die een wat ontwrigting veroorsaak het. Die onderwysers het mettertyd begin moed verloor dat sy ooit sal verander. Na nóg ʼn hewige ontwrigting van die klas, het die onderwysers saamgespan en die skoolhoof versoek om Surina te skors.

Wat hulle egter nie geweet het nie, was dat Surina se ouers albei alkoholiste was. Wanneer sy smiddae by die huis aangekom het, was hulle albei reeds dronk. Tussendeur die konstante rusie in die huisgesin sou haar pa, wanneer sy wel probeer het om huiswerk te doen, haar skoolboeke opskeur of in die toilet afspoel. Surina het vertel dat haar toekoms so donker soos haar huidige situasie lyk, en dat sy nie daaruit kan ontsnap nie.

In plaas van ʼn skorsing het die skoolhoof besluit om ʼn uitdaging aan Surina se onderwysers te gee: Vir een week lank moes hulle alles in hulle vermoë doen om onvoorwaardelike liefde aan haar te betoon. Die skelwoorde moes plek maak vir woorde wat opbou en inspireer. Hulle moes daarna streef om ʼn veilige omgewing vir haar te skep en haar te laat voel asof hulle haar onvoorwaardelik aanvaar – ten spyte van hoe sy optree. Dit het na ʼn onmoontlike taak geklink. Tog het die onderwysers ingestem om dit vir een week lank te doen.

Groot was die verrassing toe daar reeds binne ʼn paar dae, met hulle veranderende houding teenoor Surina, ook ʼn verandering in haar optrede gesien kon word. Nie net het sy al vroeër begin skool toe kom nie, haar huiswerk was vir die eerste keer in maande op datum en soos die “een week”-uitdaging in weke verander het, het die onderwysers verstom gestaan oor hoe Surina van ʼn rebel in die klas in ʼn presteerder verander het.

Vandag is Surina gelukkig getroud en die ma van ʼn seun. Sy het ook ʼn suksesvolle besigheid wat internasionaal sake doen. Wat het die verandering gebring? Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.

Besef jy dat God ons elkeen ook onvoorwaardelik liefhet en dat Hy, terwyl ons nog sondige mense was, sy Seun vir ons gestuur het? In Romeine 5:8 lees ons: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Niks wat ons dus doen of in die verlede gedoen het, kan verhoed dat Hy ons vergewe en aanvaar wanneer ons in berou na Hom toe gaan nie. Hy bevestig dit in Numeri 14:18: “Ek, die Here, is geduldig en vol liefde, Ek vergewe mense wanneer hulle sonde doen en opstandig is …” En God begeer ʼn verhouding met ons elkeen. Het Hy dan nie sy enigste Seun daarvoor opgeoffer nie? Kom ons dank Hom weer opnuut vir sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding en kom ons streef daarna om dit ook aan ons moeilike kollegas, rebelse kinders en self die nors buurvrou te bewys. Dalk gaan ons, nes Surina se onderwysers, verstom staan oor die genesing wat God hierdeur in iemand anders se lewe kan bewerkstellig. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS