Bible Society of South Africa
Neville Turley (en Mims Turley)

Lewenslesse uit die Bybel – Dag 1

Jefta, die banneling wat sy mense gered het

Bybelteks(te)

ROMEINE 10

9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

ROMEINE 10:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jefta is in 1200 v.C. in die tyd van die rigters in Gilead gebore. Sy pa was ʼn getroude man met ʼn vrou en seuns van sy eie. Jefta se ma was ʼn prostituut.

Sy halfbroers het hom gespot en toe hulle grootword het hulle hom weggejaag. Hy het gevlug en in Tob gaan woon waar ʼn groep leeglêers hulle by Jefta geskaar het. Hulle het ʼn gedugte gevegsgroep gevorm en Jefta het ʼn dapper soldaat geword.

Toe die Ammoniete oorlog teen Israel verklaar, het die leiers van Gilead hulle paniekbevange na Jefta gewend. Hulle het hom gesmeek om bevel van hulle leër oor te neem. Jefta het met ʼn mate van bitterheid geantwoord: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle noudat julle in die moeilikheid is na my toe?” (Rigters 11:7).

Maar die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Dit is juis waarom ons terug is by jou. Jy moet saam met ons kom sodat ons kan gaan oorlog maak teen die Ammoniete. Jy moet ons leier word en ook al die mense van Gilead sʼn.”

Stel jou voor hoe Jefta moes gevoel het. Weens sy afkoms is hy verag en verwerp, en nou word hy gevra om sy volk se leier te word. Jefta is egter saam met hulle na Gilead en het hulle tot ʼn suksesvolle oorwinning gelei.

Die verhaal van Jefta is ʼn illustrasie van ʼn belangrike bybelse waarheid. Die mense van Gilead moes Jefta eers as hulle leier aanvaar voordat hy hulle gered het.

So moet ons ook duidelik bewus wees van ons prioriteite — indien ons Christus as ons Verlosser wil hê, moet ons Hom ook as ons Leier aanvaar. Slegs wanneer ons ons oorgee aan sy heerskappy sal ons gered word.

Hy moet as beide ons Leidsman en Verlosser aangeneem word want God het Hom beide Here en Christus gemaak. (Handelinge 2:36; 5:31).

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS