Bible Society of South Africa
Neville Turley (en Mims Turley)

Lewenslesse uit die Bybel – Dag 13

Abigajil, mooi en intelligent

Bybelteks(te)

SPREUKE 11

16'n Deugsame vrou is gesteld op haar goeie naam;

mense wat niks ontsien nie, is gesteld op rykdom.

SPREUKE 11:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is stories van menslike belang in die Bybel waarvan uitstekende films gemaak kan word. Die verhaal van mooi, slim en goedhartige Abigajil, is ʼn draaiboekskrywer se droom. Abigajil se man, Nabal, was ryk — ʼn regte korrelkop en onbeskof.

Dawid en sy manne het kamp opgeslaan in Maon om Saul te vermy. Daar het Dawid van Nabal se veewagters ontmoet en hulle gasvry ontvang.

Toe die skaapskeerdery begin, het Dawid tien manne na Nabal gestuur om vir hulp te vra. Hy het met minagting en op ʼn afbrekende manier na Dawid verwys. Hy het geweier om hulle te help. Die manne het met hulle terugkeer dit wat Nabal gesê het woord vir woord vir Dawid herhaal. Dawid was woedend en het wraak gesweer.

Abigajil was geskok toe sy hoor wat Nabal gedoen het. Sy het die slawe beveel om proviand op donkies te laai en na Dawid te neem. So gou as wat sy kon het sy hulle gevolg sonder om haar man daarvan te vertel.

Hulle het Dawid teëgekom onderweg om Nabal te gaan doodmaak. Abigajil het voor Dawid gebuig en al die blaam vir wat haar man gedoen het op haarself geneem. Sy het Dawid om verskoning gevra.

Abigajil het al die proviand aan Dawid oorhandig en Dawid het vir haar gesê: “Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe” (1 Samuel 25:35).

Toe Abigajil by die huis aankom, was Nabal besig om partytjie te hou. Hy was so dronk dat sy nie met hom kon praat nie. Die volgende dag het sy hom vertel wat sy gedoen het en hy het ʼn hartaanval gekry en tien dae later is hy oorlede.

Toe Dawid van sy dood hoor, het hy Abigajil gevra om met hom te trou. Sy het ingestem en hulle het ʼn nomadiese lewe vol avonture gelei om Saul te vermy. Op ʼn stadium is Abigajil deur die Amalekiete ontvoer en na ʼn woeste geveg kon Dawid haar red. Na Saul se dood het hulle in Hebron gaan bly. Dawid is daar as koning van Juda gekroon en Abigajil het geboorte gegee aan ʼn seun met die naam Kilab (2 Samuel 3:2).

Abigajil se lewe getuig van ʼn godvresende, nederige en lojale vrou wat bereid was om haar man te alle tye eerste te stel.

Bible Society of South Africav.4.25.3
VOLG ONS