Lewenslesse uit die Bybel – Dag 7
Wanneer die dood ons tref
Bybelteks(te)
2 SAMUEL 12
Toe Dawid ʼn kind verloor het, was dit vir die geharde koning uiteindelik moontlik om aan te beweeg, maar Rispa kon dit nie doen nie. Rispa was een van koning Saul se byvroue en sy het twee seuns, Armoni en Mefiboset, by hom gehad.
In Dawid se tyd was daar vir drie jaar hongersnood in die land. Dit was God se straf vir ʼn verkeerde daad wat koning Saul gepleeg het toe hy die Gibeoniete laat doodmaak het, alhoewel hy beloof het om hulle te beskerm (2 Samuel 21:1-2).
Die Gibeoniete wou wraak neem. Hulle het daarop aangedring dat Dawid vir Saul se sonde moet vergoed deur sewe van Saul se nageslag aan hulle oor te gee. Dawid het ingestem en hy het Armoni en Mefiboset en vyf van Saul se kleinkinders aan hulle uitgelewer. Die Gibeoniete het hulle opgehang en hulle liggame daar op die berg laat bly.
Stel jou die emosies voor van hulle moeder toe sy van haar onskuldige seuns se lot verneem. “Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op ʼn rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie” (2 Samuel 21:10).
Toe Dawid hiervan hoor, het hy beveel dat die liggame verwyder word en dat hulle in die graf van Kis, Saul se pa, begrawe word.
Daar is vandag steeds ouers wat in hulle hartseer vir God kwaad is omdat hulle ʼn kind verloor het. Hulle soek rasionele antwoorde, maar dikwels sonder sukses. Wat ons egter wel weet, is dat God ons so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het om vir ons te sterf sodat ons, deur Hom, die ewige lewe kan hê.