Lewenslesse uit die Bybel – Dag 8
Die ware Israeliet
Bybelteks(te)
JOHANNES 1
Iemand het op ʼn keer gesê dat ons eintlik drie persone is. Die persoon wat ander mense dink ons is, die persoon wat ons dink ons is en die persoon wat ons werklik is. Dit is nie hoe Jesus na Natanael gekyk het nie. Natanael, ʼn ortodokse Jood van Kana in Galilea, het by Filippus van Jesus gehoor. Filippus het hom vertel dat Jesus die Een is van wie Moses en die profete geskryf het.
Natanael is baie skepties en hy maak dieselfde fout wat baie mense vandag steeds maak. Sonder dat hy Jesus ken, beoordeel hy hom op waar hy grootgeword het. “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” (Johannes 1:46). Filippus het hom genooi om te kom kyk.
Natanael, wat die wet en die profete se geskrifte oor die Messias bestudeer het, gaan dan saam om Jesus te sien. Jesus groet hom met die woorde van ons teks vir vandag. Natanael vra Jesus hoe hy geweet het wie hy was. “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien” (Johannes 1:48). Natanael was heel oorweldig en gee homself oor aan Jesus: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” (Johannes 1:49).
Jesus beloof Natanael dat hy nog groter dinge sal sien en beleef omdat hy glo, en dit is inderdaad bewaarheid.
Wanneer Jesus na ons kyk is wie ons is en waar ons woon van geen belang vir Hom nie. Hoe opreg ons is, is al wat saak maak. Jesus het na Natanael gekyk en gesien dat hy sonder pretensie was.
Jesus roep ons om al ons verwaandheid te laat staan en met ʼn oop gemoed na Hom te kom. Daar wag groot dinge op diegene wat dit doen.