Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 15

Ondersoek jou geloof

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 13

5Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

2 KORINTIËRS 13:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is ʼn Afrikaanse uitdrukking: Die beste stuurlui staan aan wal. Ons sien en hoor dit oral: Mense wat kritiseer maar nie self die werk doen nie. Hulle sit gewoonlik op die toeskouerpawiljoene en die kerkbanke en lewer kritiek oor hóé dinge eintlik gedoen moet word …

Paulus het ʼn soortgelyke reaksie vanuit die gemeente in Korinte ervaar. Nuwe leermeesters met nuwe “openbaringe” in die gemeente, asook die sogenaamde “doring in sy vlees”, laat vrae by die gemeente ontstaan oor die geldigheid van Paulus se roeping as apostel. Hulle vrae bewys juis dat Christus inderdaad deur hom gepraat het (2 Korintiërs 13:3).

Paulus antwoord hulle baie duidelik: Omdat hy nie leef vanuit sy swakheid of sy eie krag nie, maar vanuit sy geloof in Christus en sy vermoë, gebeur iets opspraakwekkends –die krag van die Here kom tot volle werking in sy swakheid (2 Korintiërs 12:9). Hy leef, het lief en dien vanuit sy verhouding met Christus in hom. Hy gee om vir die Korintiërs, en daarom bid hy tot God dat hulle geen kwaad sal doen nie maar sal doen wat goed is (2 Korintiërs 13:7), en dat hulle volmaak sal word (2 Korintiërs 13:9).

Vir Paulus gaan dit nie oor die Korintiërs se opinie oor hom nie, maar oor hulle gedrag – dié soort gedrag wat pas by mense wat bely dat Jesus Christus in hulle is. Die vraag in sy hart is egter of die Korintiërs nog vanuit ʼn egte geloofsverhouding met Christus leef. Daarom sy versoek: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe” (2 Korintiërs 13:5).

As gelowiges loop ons ook deur onder individue wat die egtheid van ons geloof bevraagteken, nie glo dat ons deur Christus geroep is nie of met vals gerugte ons reputasie skade berokken. In sulke tye voel ons magteloos, swak en kwesbaar en weet ons nie hoe om ʼn einde aan sulke praatjies te maak nie. Dit is egter dan wanneer Christus wat ín ons is ons versterk, maar dan moet ons geloof onwrikbaar wees en ons moet weet waar ons met Christus staan.

Ons moet gereeld ons geloof ondersoek en ʼn paar vrae eerlik beantwoord. Leef ons werklik in en vanuit die geloof? Glo ons in Christus se belofte dat Hy en die Vader in ons leef – en ons in Hom? Is ons alledaagse leefwyse ʼn refleksie van Hom wat in ons leef? Leef ons met ʼn groeiende bewustheid van Christus se teenwoordigheid en krag in ons lewens, en smag ons werklik daarna? ʼn Twyfelagtige of halfhartige “ja” beteken dat ons ons daartoe moet verbind om ons geloof reg te stel.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS