Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 16

Ondersoek jou dade

Bybelteks(te)

GALASIËRS 6

4Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk. 5Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.

GALASIËRS 6:4-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ʼn prestasiegedrewe samelewing word mense se werksvermoë met mekaar vergelyk en word jou waarde as mens en as “kommoditeit” dikwels hieraan gemeet. Dit is onvermydelik dat ons hierdeur beïnvloed word: Ons kyk vanuit ander se oë na onsself en meet ons dade aan hoe dit teen ander s’n opweeg. Nodeloos om te sê, ons kom gou agter dat daar altyd mense is wat beter of slegter as ons vaar en dié besef ontlok dikwels gevoelens van óf meerderwaardigheid, óf minderwaardigheid.

En tog is dit in Galasiërs 6:4-5 so duidelik wat ons gesindheid ten opsigte van ons dade behoort te wees: Ons moet ons eie dade (nie ander s’n nie) ondersoek, beoordeel, toets of, anders gestel, met ʼn vergrootglas daarna kyk. Jy sien, daar is dikwels bybedoelings agter ons werksywer – ons wil mense daarmee beïndruk, ons wil aansien onder mense hê, ons doen dinge uit naywer, of ons wil sommer net met onsself spog. Die enigste maatstaf vir jou dade is dat dit wat jy doen, goed moet wees. Volgens Kolossense 3:23 is die maatstaf vir “goed” die Here se standaard: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” Wanneer jy jou hieraan meet, sonder om jou werk te vergelyk met dié van ʼn ander, mag jy dan maar gerus trots wees op wat jy doen.

Jy sien, die uiteinde van hierdie vergrootglas-strategie is dat ons sonder skaamte of verleentheid in die Here se teenwoordigheid kan kom wanneer ons rekenskap moet gee oor wat ons gedoen het. En rekenskap gaan Hy voorwaar eis: “Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:10-12).

In die lig van hierdie teksvers kan ons ontspan wanneer ons werk of goeie dade verrig. God meet ons nie aan menslike standaarde nie, ook nie aan ons eie standaarde nie, maar aan syne, en dit is nooit bo ons vermoë nie. Daarom, neem ʼn besluit om alles wat jy aanpak te doen vir God en sy goedkeuring.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS