Loof Hom – Dag 20
Een ding kom kort (2)
Bybelteks(te)
1 KORINTIËRS 13
Die liefde
As jy met iemand in sy eie taal praat, is daardie persoon dikwels toegankliker. Ongelukkig is daar een faktor wat, as dit ontbreek, betekenisvolle kommunikasie sal belemmer, en dit is die taal van die hart – liefde. Selfs al praat iemand die tale van mense en engele, maar hulle het nie liefde nie, word selfs die wysste woorde nie ernstig opgeneem nie. Dit is vir die hoorder net woorde met klanke wat deur die wind weggewaai word. In 1 Korinthiërs 13:1 word iemand sonder liefde beskryf as “ʼn weergalmende ghong of ʼn kletterende simbaal”.
Sou iemand dink dat hy baie spesiaal is en hoog geag behoort te word omdat hy profetiese woorde spreek maar hy is liefdeloos, dan “is hy niks!” (1 Korinthiërs 13:2). Let op dat dit nie die woorde is wat niks is of niks beteken nie, maar die spreker. Gelowiges het daarom ʼn groot verantwoordelikheid om met God se liefde vervul te wees as hulle ʼn positiewe invloed op ander se lewens wil hê, anders “is hulle niks!”
Om geheime te ontrafel en te verstaan, om ʼn wandelende ensiklopedie vol kennis te wees en om soveel geloof te hê dat jy berge kan versit, kan net van waarde wees as jy liefde het, ken en verstaan, en dit met ander deel. Daarsonder beteken al die ander dinge niks en kan jy gerus maar aan jouself erken: “Ek is niks!”
Om besittings weg te gee of jou uiterste bes te doen om iemand anders te bevoordeel, lei gewoonlik daartoe dat die ontvanger uit dankbaarheid sy weldoener vereer. Dit word dalk goed bedoel, maar die weldoener moet altyd eers selfondersoek instel en homself afvra of die goeie dade werklik aangevuur is deur liefde vir ander. Indien nie, moet hy weet: “Dit baat my niks.”
Die skrywer raak in 1 Korinthiërs 13:1-3 elke faset van die mens se bestaan aan: sy mond (tale), intellek (kennis, geheime), gees (geloof, profesie), liggaam en besittings. Hiermee verklaar hy onomwonde: Elke faset van die mens se lewe vorm die geheel, en geen deel kan effektief funksioneer sonder die liefde van God in sy lewe nie.
Waarom word daar soveel klem gelê op die liefde? Ons Skepper is liefde, elke greintjie van sy wese is liefde, en almal wat van Hom afhanklik is, word onderhou deur sy liefde. Hoe kan mense wat na sy beeld geskape is, hoegenaamd sy gawes uitoefen daarsonder? Liefde is die kragstroom wat lewe opwek en ons is die geleiers daarvan.