Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 22

ʼn Gebed

Bybelteks(te)

JAKOBUS 5

16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking.

JAKOBUS 5:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gebed is die blitslyn van hoop wat ʼn nietige mens in kontak hou met die groot God. Met hierdie verbinding bid ons en het ons hoop vir onsself, vir geliefdes, medegelowiges en ongelowiges. Gebed is egter meer as net die noodroep om in behoeftes te voorsien; dit is ook die blitslyn wat vir ons krag gee sodat ons deur die Heilige Gees al hoe meer kan leef soos God verlang. Gebed is daarom ʼn tweerigtinggesprek tussen God en die mens. Ek is daagliks in afwagting – met volle aandag – wanneer ek die Woord van God lees, sodat die Heilige Gees God se wil vir my sal openbaar.

Hoor wat sê die Woord reeds vir ons oor God se wil. As gelowiges en beelddraers van God in die wêreld, moet ons tot eer van die Here leef deur net te doen wat Hy verlang. Ons kan weet wat Hy verlang deur te bid en te vra dat ons “vervul mag word met die volle kennis van God se wil deur al die wysheid en insig wat die Gees gee” (Kolossense 1:9). Dit beteken dat ons deur die Gees sal leef (Galasiërs 5:16) en Hom toelaat om ons te lei. Kennis van sy wil moet egter gepaard gaan met groei in die kennis van God (Kolossense 1:10) – die ontdekking van sy hart, sy onvergelykbare grootheid.

So ʼn lewe bied uitdagings aan elke gelowige. Dit vra ʼn Godgesentreerde lewe en volharding. Moeilik? Nie as ons vra dat God deur sy “wonderbare krag [ons] alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard” nie (Kolossense 1:11).

Jesus se prediking en onderrig oor die Christen se leefwyse sentreer om liefde. Daarsonder is ons niks (1 Korintiërs 13), ken ons God nie (1 Johannes 4:8) en bly God nie in ons nie (1 Johannes 4:12). Elke gelowige kan egter seker wees dat die liefde van God in sy hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan hom gegee is (Romeine 5:5). Ons dra egter die verantwoordelikheid om daardie “saad” van liefde te bewerk, en een manier waarop ons dit kan doen is om te bid dat ons liefde meer en meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling sodat ons in staat kan wees om die dinge wat saak maak, te onderskei (Filippense.1:9). Waarom is die onderskeiding nodig? Sodat ons op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam kan wees (Filippense 1:10).

Gebed het groot krag en beskik oor die vermoë om ons lewens, lewensuitkyk en ons omstandighede te verander, want God hoor elke gebed. In die woorde van RA Torrey: “Gebed is die sleutel wat die skatkamers van God se oneindige genade en krag ontsluit. Alles wat God is en alles wat God het, is tot die beskikking van gebed.”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS