Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 5

Splinternuut

Bybelteks(te)

2 KORINTIËRS 5

17Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

2 KORINTIËRS 5:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Soveel gebeure wat in die Bybel opgeteken is, het nuutheid of vernuwing van omstandighede, en veral van mense, as ʼn gemeenskaplike tema. Ons lees vir die eerste keer hiervan in Genesis toe God lig skep om die duisternis te verdryf. Dit het die platform geskep vir nuwe lewe: Plante, saad, diere, voëls, seediere en op die sesde dag ook die skepsel na God se beeld – die mens.

Die sondeval het egter die ewige splinternuutheid van die skepping bederf; die volmaaktheid daarvan was in wese aangetas. Die hoogtepunt van God se skepping, die mens, is in besonder hierdeur geraak – hulle word verban uit God se teenwoordigheid. Voortaan sou begeerte, sonde, onvolmaaktheid, skaamte, blaamverskuiwing en die dood, sterflikheid, die gevolge van hulle ongehoorsaamheid wees.

Maar God is nie onverhoeds betrap deur hierdie gebeure nie. Hy neem inisiatief om sy beeld in mense te herstel en hulle weer in verhouding met Hom te laat leef. In Christus het Hy voorsiening gemaak vir ʼn nuwe, ewige lewe saam met Hom. Hoe? Hy (God) het ons (die wêreld) deur Christus met Homself versoen en reken die mense hulle oortredinge nie toe nie (2 Korintiërs 5:18-19). Wat ʼn totaal nuwe benadering: Iemand – die soewereine God – kies om ʼn verhouding met mense te herstel wat ʼn verhouding met hulle Maker verruil vir ʼn verhouding met hul twyfelagtige, selfsugtige eie ek!

Met hierdie versoening gebeur daar twee nuwe dinge: Jy behoort nou aan Christus en jy is ʼn núwe mens, ʼn núwe skepsel. Romeine 6:4,11 beskryf hierdie herskepping as ʼn doodgaan vir die sonde en ʼn opstaan om ʼn nuwe lewe vir God in Christus te leef. In 2 Korintiërs 5:17 vat Paulus hierdie gebeurtenis saam: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Hoe die mens in Christus sy lewe nou leef, of hoe toegewyd hy die Here dien, word nie meer beoordeel op grond van hoeveel reëls en wette hy gehoorsaam nie, maar hoe hy dien in die nuwe bedeling van die Gees (Romeine 7:6) en hoe gehoorsaam hy is aan die leiding van die Heilige Gees (Galasiërs 5:6). Dít is die geheim tot voortdurende verandering en hoe om elke dag as ʼn splinternuwe mens te begin en ook af te sluit.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS