Loof Hom – Dag 7
Die regte woord
Bybelteks(te)
JESAJA 50
Wie wil my aankla?
Die volk Israel was in ballingskap in Babel en het getwyfel of God regtig vir hulle omgee. Hulle het selfs geglo dat Hy die band tussen hulle verbreek het. Niks kon verder van die waarheid wees nie – God verbreek nooit sy verbond wat Hy met die mens aangaan nie!
Iemand was dus nodig om die volk net weer daaraan te herinner dat Hy nie ontrou is soos mense nie, dat die nood van sy mense nie ongesiens by Hom verbygaan nie. Hierdie dienskneg van die Here praat nie uit sy eie nie, maar verklaar: “Die Here HERE het My ʼn geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde.”
Swaarkry en slegte dinge kom oor elke mens se pad, ook oor die pad van gelowiges. Dit is wanneer ons woorde van bemoediging, troos of hoop nodig het, en soms ook teregwysing. Leë woorde sal nie die hart van moeë mense raak nie. Net woorde wat vanuit ʼn hart vol liefde en opregtheid gedeel word, kan bemoedig en hoop bring. En dan moet dit met waarheid deurweek wees en in waarheid gesê word.
Geen wonder nie dat die profeet skryf: “Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik” (Jesaja 50:4). Dit is net God wat vir jou ʼn geoefende tong gee om op die regte tyd die regte woorde vir mense in moeilike omstandighede te gee – heel moontlik woorde wat die verskil tussen lewe en dood vir iemand kan beteken.
Dalk sit jy vandag in sak en as en dink: “Ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof” (Jesaja 49:4). Maar God se Woord sê: “Die Here sál aan my reg laat geskied, my God sál my beloon” (Jesaja 49:4b).
Jy staan voor ʼn taak of opdrag wat vir jou te groot is. Jy voel onbekwaam en minderwaardig. Neem dan die Here se woorde aan Kores ter harte: “Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie … Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak … Ek sal vir jou skatte gee wat in die donker gebêre word … sodat jy kan weet … dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel” (Jesaja 45:5,2-3).
Indien jy wonder of enigiemand jou liefhet … die groot God, jou Skepper, het jou innig lief: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16).
Dink jy nie dat Hy jou ook wil gebruik om leiding aan ander te gee nie? Laat Hom toe om jou te leer hóé.