Loof Hom – Dag 9
Lippe wat die waarheid praat
Bybelteks(te)
SPREUKE 4
Mense wat maklik praat, ryg woorde uit soos ʼn bol wol wat afgerol word. Hulle slaag daarin om ander te laat skaterlag met hulle spitsvondigheid en stories. Jagters se vergesogte grootpraatstories oor drie bokke wat met een skoot geskiet is, of Rubber, die basterbrak, wat sommer 180 grade in die lug gedraai het toe hy ʼn leeu gewaar word soos soetkoek opgeëet.
Dié soort stories is dalk gepas vir rondom die kampvuur, maar in ons daaglikse omgang met mense geld ander beginsels. So ernstig voel Dawid oor leuens, vleitaal, valsheid en grootpratery dat hy die volgende wens uitspreek: dat God die vleiende lippe, die tong wat grootpraat, dié wat roem op die sterkte van hulle tong en hulle vertroue daarin stel, sal uitroei (Psalm 12:4-5). Die Vine’s Expository Dictionary verduidelik dat die inhoud van sulke gesprekke pervers is – die waarheid is bevooroordeeld, korrup, verdraai en verander om die teenoorgestelde te beteken.
God word ook nie ontsien in die stortvloed van woorde sonder opregte bedoelings nie. Asaf sê van Israel: “En hulle het Hom met hulle mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie …” (Psalm 78:36-37). Geen wonder dat ʼn vader aan sy seun die volgende raad gee nie: “Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe” (Spreuke 4:24).
Daar is een woord wat die aard van die woorde wat by ons mond moet uitkom, beskryf: waarheid (Efesiërs 4:25). En watter beeldassosiasies kan dit beter beskryf as ʼn fontein wat vars water laat opborrel (Jakobus 3:11) of woorde wat met sout besprinkel is (Kolossense 4:6)? Skoon, soet water les jou dors en varsgemaalde sout gee smaak aan jou kos.
Ons sal onsself ʼn guns bewys as ons onsself herinner aan die aard van ons Vader se woorde vóórdat ons tong woorde by ons mond uitstoot: “Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in ʼn smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal” (Psalm 12:7).
Jy bevind jou dalk in ʼn situasie waar jy die slagoffer van verdraaide waarhede is of ly as gevolg van blatante leuens en vals stories wat oor jou versprei word. Moenie in die strik trap om met jou tong ʼn teenaanval te loods nie. Laat toe dat die Een wie se woorde gelouter en rein is, jou regsaak behartig.
As jy dalk die persoon is wat iemand anders se integriteit skade aandoen met gemene praatjies, het dit tyd geword dat jy dié gebed bid: “Vader, help my om valsheid en verkeerde woorde van my mond en lippe weg te jaag. Ek wil waarheid oor my tong laat heers.”