Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 10
Die opstanding lei daartoe dat ons vrygewig omgee
Bybelteks(te)
2 KORINTIËRS 8
Die hoop wat Christus deur sy opstanding aan ons geskenk het, lei daartoe dat ons kan omgee. Ons het elkeen ʼn verantwoordelikheid om die nuwe vryheid wat Jesus ons gee, die vryheid van hoop, aan ander te skenk!
Hoe doen ʼn mens dit? Deur vir mense wat jou pad kruis hoop te gee!
Dink vir ʼn oomblik, maak jy ʼn verskil in mense se lewens?
Charles Schulz, die skrywer van die Peanuts-strokiesprente, het die volgende geskryf:
Vra jouself die volgende vrae:
– Noem die vyf rykste mense in die wêreld.
– Noem die vyf mense wat die afgelope paar jaar Mej Amerika (of Mej SA) was.
– Noem vyf mense wat al die Nobelprys gewen het.
– Noem al die beste akteurs en aktrises (Oscar-toekennings) van die afgelope tien jaar.
Hierop sê hy dat dit vir mense baie moeilik sal wees om die vrae te beantwoord omdat dit vir ons moeilik is om die prestasies van die verlede te onthou! Al was mense in die verlede die beste in hul kategorieë, vergeet ons hulle prestasies. Die applous vir hierdie presteerders verdwyn en soms gaan hulle maar eensaam dood! Hulle sertifikate is later net vir hulself om te aanskou!
Hy sê daar is egter ʼn paar ander vrae wat ons makliker gaan beantwoord:
– Noem ʼn paar onderwysers wat ʼn invloed op jou lewe gehad het.
– Noem die name van drie vriende wat jou al deur moeilike tye gehelp het.
– Noem vyf mense wat jou iets geleer het in jou lewe om te onthou.
– Noem vyf vriende wie se geselskap jy baie geniet.
Hoekom sal die meeste van ons hierdie vrae makliker kan beantwoord?
Omdat dit mense is wat jou lewe verander het of vir jou hoop gegee het!
Die mense wat ʼn verskil in jou lewe maak, is nie diegene wat die grootste prestasies in die samelewing behaal het nie! Die mense wat jy onthou, is die mense wat vir jou omgegee het!
Ons moet leer om ʼn verskil in mense se lewens te maak. Ons gaan dit egter slegs regkry indien ons geleer het om om te gee en aan verhoudings te bou. Hoe jy mense oor hulself laat voel, is belangriker as om altyd reg te wil wees.