Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 17
Om die mense wat naby jou is, ook lief te hê
Bybelteks(te)
MATTEUS 22
Ek het iewers die mooi verhaal gelees van ʼn baie ryk man wat, grotendeels deur die toedoen van sy gewetenlose broer, feitlik al sy besittings verloor het. Ná die verlies van sy rykdom het hy amper, soos Job, sy vrou verloor, en sy kinders moes soos bedelaars van die aalmoese van ander leef.
Soos Job, het die man besluit dat hy aan die wêreld sal wys dat hy nie slegs vir God liefhet as gevolg van sy welvaart nie, maar dat hy ook aan Hom getrou sal bly, al het hy byna niks. Maar die mense het nie gehou van iemand wat, ten spyte van soveel teenspoed, steeds gelowig en vroom bly nie. Elke sug of teken van smart was vir hulle ʼn teken dat die man, soos Job, teen God in opstand kom of besluit het om God te verloën. Dit het byna ʼn obsessie by die man geword om aan die dorpenaars te wys dat hy anders is as hulle. Hy het met God gepraat en Hom gevra om hom te wys wat hy kan doen sodat die mense nie meer oor sy Christenskap sal twyfel nie. Maar die Here het hom nie op sy vraag geantwoord nie.
In ʼn daad van barmhartigheid het hy al sy spaargeld wat hy tydens die arm jare bymekaargemaak het, aan die armes gegee. Die armes was dankbaar, maar die mense was nie oortuig nie. “Hy probeer vir homself ʼn kliëntebasis opbou,” het hulle gesê. Weer het hy met die Here gaan praat en gepleit dat Hy hom tog moet help. Maar die Here het hom steeds nie geantwoord nie. Toe raak hy betrokke by ʼn projek om vir die dorp ʼn nuwe kerk te bou. Dit was waarlik ʼn imposante gebou wat as ʼn soort teken van God se heerlikheid bo al die ander geboue in die dorp uitgetroon het. Weer het die mense gesê dat hy homself probeer verewig.
Die man was moedeloos en het weer na die Here toe gegaan. Tot sy verbasing het die Here hom geantwoord. Hy het gesê: “In die grootste huis in die dorp woon ʼn man, ʼn ware skurk – iemand vir wie niemand enige respek het nie. Niemand kom ooit by hom nie omdat hulle sy geslepenheid so goed ken. Jy ken hom. Dis jou broer. Hy het versorging nodig. Gaan en versorg hom, en wees lief vir hom. Dán sal almal weet dat jy my kind is.”
Die moeilikste liefde is om daardie mense wat naby aan ons leef lief te hê, al het hulle ons so seergemaak!