Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Lydenstyd, opstanding en Christelike liefde – dag 5

Die opstanding van Jesus is die DNS van die Christendom

Bybelteks(te)

1 KORINTIËRS 15

17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore.

1 KORINTIËRS 15:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paastyd begin met Goeie Vrydag en Paassondag, en duur tot en met Hemelvaartdag. Dit is die tyd in die Christelike jaar wanneer Christene nadink oor die opstanding en die impak wat dit op hul lewens het. Die opstanding is die geboorte van die Christendom.

Die evangelie van Jesus Christus is ʼn opstandingsevangelie. Die opstanding vorm die hart van die Christelike verkondiging, geloof, lewe en teologie (Dirkie Smit). Die opstanding maak die Christelike geloof uniek. Dit onderskei die Christendom van ander godsdienste! Sonder die opstanding word die Christendom maar net nog ʼn godsdiens of filosofie met ʼn klomp leerstellinge en hoë sedelike waardes! Dit is juis die opstanding van Christus wat aan elkeen van ons ʼn lewensveranderende krag skenk. Om te glo in die opstanding van Jesus Christus, het tot gevolg dat gelowiges ʼn nuwe uitkyk en ʼn nuwe toekoms in die lewe het.

Dit lei daartoe dat gelowiges ʼn ander uitkyk op die lewe het as die niegelowiges. Dit beteken natuurlik nie dat so ʼn nuwe lewe die swaarkry, pyn en hartseer van die lewe gespaar word nie, maar dit gee die lewe meer sin en betekenis. Dit het tot gevolg dat die dood nie die einde van die pad is nie, maar ʼn nuwe begin. Jesus het waarlik opgestaan en vooruitgegaan om vir ons plek voor te berei in ʼn nuwe wêreld wat op ons wag!

As jy nie glo aan die opstanding nie, eindig jou lewe in hierdie wêreld met al sy swaarkry en hartseer! Dan is daar vir jou geen lewe hierna nie. Dit is die opstanding wat die Christendom so ongelooflik uniek en opwindend maak! Loof Jesus hiervoor!

Christus het op die eerste dag van die week (Sondag) opgestaan uit die dood. Hierna het Christene op die eerste dag van die week bymekaargekom voor hulle gaan werk en saam die Here geloof deur gebed, sang en bestudering van die Skrifte. Aanvanklik was Sondag (die eerste dag van die week) ʼn gewone werksdag. Dit is eers in Konstantyn se tyd (321 n.C.) dat Sondag ʼn amptelike geestelike dag geword het waarop mense nie moes werk nie. Toe kon hulle saam deur die dag bymekaarkom om die opstanding van Jesus te vier.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS