Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Mense betrokke by die geboorte van Jesus – Dag 11

Jesus

Bybelteks(te)

LUKAS 2

39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

LUKAS 2:39-40AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit is net reg dat ons hierdie reeks oor mense wat betrokke was by die geboorte van Jesus afsluit met die Persoon waaroor alles gaan — Jesus self.

Met die eerste oogopslag lyk dit nie of vers 40 veel sê nie — net dat Jesus gegroei en sterk geword het. Daardie paar woorde beskryf egter net hoe menslik Jesus was. Dit is een ding om te sê dat Hy gebore is soos ons almal gebore word, maar heeltemal iets anders om te bewys dat Hy soos ons regdeur sy lewe hier op aarde volkome mens was, iemand wat soos enige ander seuntjie gegroei en sterk geword het.

Die meeste van ons verstaan dat Jesus fisies moes groei, dat Hy sterker en ouer geword het, maar ons vind die idee dat hy geestelik en verstandelik moes groei, moeilik om te begryp. God ontwikkel nie geestelik nie. En aangesien Jesus ook God was, hoe kon Hy geestelik ontwikkel? Jesus het ook in wysheid gegroei. Dit is ook ʼn uitdagende gedagte. Jesus is God, en God weet alles. Hoe kon Jesus leer as Hy God was?

Jesus, alhoewel Hy die Seun van God was, was ook volkome mens. Daarom moes Hy die Bybel leer en teologie bestudeer. Hy moes leer om gehoorsaam te wees, net soos ons. Jesus was volkome mens, net soos ons, en ʼn groot deel van menswees is die leerproses. Hy het geleer eet, praat, lees en skryf, en om sy ouers te gehoorsaam.

Die volkome menswees van die Seun van God is die wonderlikste en mees misterieuse waarheid in die geskiedenis van die wêreld. Jesus het ʼn menslike liggaam, hart, verstand en wil gehad — en tog het dit geensins Sy goddelikheid ondermyn nie. Hy het net soos ons ontwikkel en die lewe net soos ons ervaar. Hy is in ʼn wêreld vol wrede politici gebore, ʼn wêreld waar mense in armoede geleef het en waar gelowige mense bespot is. Hy het volkome mens geword sodat Hy ons volkome kan red. Hy is waarlik Immanuel, God met ons.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS