Mense betrokke by die geboorte van Jesus – Dag 6
Die Skaapwagters
Bybelteks(te)
LUKAS 1
LUKAS 1
Ek wonder hoe ek sou reageer as ek een van daardie skaapwagters was. Ek wil graag glo dat ek soos hulle sou reageer, maar ek is nie so seker nie. Die kanse is goed dat toe die engele weg is, ek versigtig sou rondkyk om te sien of die ander ook gesien het wat ek gesien het. Miskien sou ons almal eers ʼn lang debat oor ons opsies gevoer het. Kan ons regtig die skape alleen laat? Wat as die eienaar van die skape uitvind? Wat as iets met die skape gebeur terwyl ons weg is? Wat as ons verkeerd gehoor het?
Ek dink die meeste van ons sou besluit het om nie in geloof te handel nie.
God praat vandag nog met ons deur sy Woord, en Hy doen dit om ons aan die gang te kry. Baie keer hoor ons sy stem, maar ons is bang oor wat ander daarvan sal sê, of ons aandag word deur iets anders afgelei. Baie keer hou ons nie van wat God vir ons sê nie, want dit beteken verandering. Of dit beteken dat ons iets moet doen waarmee ons miskien nie gemaklik is nie, of dat ons moet ophou om iets te doen waarvan ons baie hou.
Die skaapwagters het teruggegaan met blydskap (Lukas 2:20) Hulle het God geloof en geprys. En ons weet wat gebeur het toe daardie onopgevoede, eenvoudige mense begin het om mense te vertel dat die Verlosser gebore is: mense was verstom!
Wanneer God met ons praat is dit belangrik dat ons reg optree. Die boodskap van Kersfees roep ons tot aksie. God roep sommige tot die belangrikste aksie — om jou lewe aan Hom oor te gee. Ander word weer geroep om weg te draai van iets wat verkeerd is. Ons maak gewoonlik allerhande verskonings en rasionaliseer sonde, maar ons weet wat reg is.
Luister na die Kersverhaal. Hoor die boodskap. Doen iets wat moed verg. Volg die voorbeeld van die skaapwagters en antwoord in geloof op God se stem wat jy deur sy Woord hoor.