Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 13

Genesis 48–50, Psalm 31

Bybelteks(te)

GENESIS 48

1'n Rukkie hierna is vir Josef gesê sy pa is siek. Toe vat Josef sy twee seuns Manasse en Efraim saam. 2Daar is aan Jakob gesê: “U seun Josef het na u toe gekom.”

Toe het Israel sy kragte ingespan en regop gaan sit op die bed. 3Hy het vir Josef gesê: “God die Almagtige het in Lus in Kanaän aan my verskyn. Hy het my geseën 4en vir my gesê: ‘Ek sal jou vrugbaar maak en aan jou baie kinders gee. Ek sal jou nageslag baie volke laat word. Ek sal hierdie land aan jou nageslag gee om vir altyd te besit.’ 5Jou twee seuns wat hier in Egipte vir jou gebore is voordat ek hier na jou toe gekom het, Efraim en Manasse, is vir my soos my eie, soos Ruben en Simeon is hulle vir my. 6As jy hierna nog kinders het, sal hulle eendag in die naam van hulle broers eiendom verkry. 7Ek neem die twee seuns as my eie aan, want toe ek uit Paddan-Aram gekom het, is Ragel dood in Kanaän op pad na Efrata toe, dit is Betlehem, en ek het haar daar langs die pad begrawe.”

8Toe Jakob die twee seuns van Josef sien, vra hy: “En wie is hulle?”

9Josef het sy pa geantwoord: “Dit is my seuns. God het hulle vir my in hierdie land gegee.”

Jakob sê toe: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”

10In sy hoë ouderdom was Israel se oë al sleg en hy kon nie goed sien nie. Josef het sy seuns tot teen Israel gebring, en hy het hulle gesoen en teen hom vasgedruk. 11Toe sê Israel vir Josef: “Ek het nooit daaraan gedink dat ek jou weer sal sien nie, en hier laat God my nou ook nog jou kinders sien.”

12Josef het sy seuns van sy pa se skoot af getel en voor hom gebuig. 13Toe vat Josef die twee aan die hand: Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel. Maar toe Josef hulle naby hom bring, 14het Israel sy arms gekruis en sy regterhand op Efraim se kop gesit al was hy die jongste, en sy linkerhand op Manasse s'n al was hy die oudste.

15Hy het vir Josef geseën en gesê:

“Mag die God naby wie

my voorvaders Abraham en Isak geleef het,

die God wat vir my van my geboorte af tot nou toe gesorg het,

16die Engel wat my uit elke moontlike gevaar gered het,

mag Hy die seuns seën.

Dan sal my naam voortleef in hulle,

en ook dié van my voorvaders Abraham en Isak.

Mag die seuns vermeerder en baie word in daardie land.”

17Toe Josef sien sy pa sit sy regterhand op Efraim se kop, het Josef gedink dis nie reg nie en toe tel hy Jakob se hand van Efraim se kop af op om die hand op Manasse se kop te sit. 18Josef het vir sy pa gesê: “Dit hoort nie so nie, Pa! Manasse is die oudste, sit Pa se regterhand op sy kop.”

19Maar sy pa het geweier en gesê: “Ek weet dit, my seun. Ook hý sal 'n volk word, ook hý sal baie word, maar sy jonger broer sal sterker word as hy, en die jonger broer se nageslag sal 'n magtige nasie word.”

20Daardie dag het Jakob die twee seuns geseën:

“Die Israeliete sal mekaar seën met die woorde:

Mag God jou maak soos Efraim en Manasse.”

So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.

21Toe sê Israel vir Josef: “Ek gaan binnekort sterf, maar God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders. 22Aan jou gee ek iets meer as aan jou broers: Sigem, wat ek van die Amoriete afgeneem het met my swaard en met my pyl en boog.”

GENESIS 49

Jakob seën sy seuns

1Jakob het sy seuns laat roep en vir hulle gesê:

“Kom hier! Ek wil vir julle sê

wat met julle nageslagte sal gebeur:

2Kom na my toe, seuns van Jakob,

luister na Israel, julle vader!

3“Ruben, jy is die oudste,

toonbeeld van my krag,

gebore toe ek in my fleur was;

jy is die vernaamste, die sterkste.

4Maar jy sal nie langer die vernaamste wees nie,

want soos stormwater was jy onstuimig:

jy het jou vergryp aan 'n vrou van jou vader,

jy het my bed verontreinig toe jy daarin geklim het.

5“Simeon en Levi is die een soos die ander:

altyd gereed vir geweld.

6Aan hulle beraadslagings wil ek geen deel hê nie,

in hulle vergaderings wil ek nie kom nie,

want koelbloedig het hulle mense vermoor,

roekeloos het hulle diere mishandel.

7Die straf van God sal hulle tref

oor hulle geweldpleging, hulle onbeteuelde drif:

hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob,

versprei word tussen die stamme van Israel.

8“Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer:

jy sal jou vyande onderwerp

en jou broers sal voor jou buig.

9Jy is 'n leeu, my seun Juda,

wat van die prooi af wegstap.

Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos 'n leeu,

soos 'n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.

10Jy sal altyd heers,

jy sal aanhou regeer

totdat Silo kom,

die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.

11Hy maak sy rydier vas aan 'n wingerdstok,

sy donkie aan die beste wingerdstok.

Sy klere is so rooi soos wyn,

sy koningskleed so rooi soos druiwesap.

12Sy oë is donkerder as wyn,

sy tande witter as melk.

13“Sebulon woon by die strand,

by die strand waar skepe is,

sy oë is op Sidon gerig.

14“Issaskar is 'n sterk pakdier,

hy gaan lê tussen sy twee saalsakke.

15Hy sien 'n goeie woonplek,

'n mooi landstreek,

en daarvoor onderwerp hy hom aan dwangarbeid,

doen hy slawewerk.

16“Dan is een van die stamme van Israel,

hy handhaaf die reg van sy volk.

17Dan is 'n slang op die pad,

'n horingslang op die grootpad,

hy pik die perd aan sy hakskeen,

die ruiter val agteroor.

18“Ek wag dat U red, Here!

19“Gad – 'n bende oorval hom,

maar hy val hulle van agter af aan.

20“Aser eet ryk kos,

hy eet koningskos.

21“Naftali is 'n takbok wat vry rondloop,

hy het 'n mooi nageslag.

22“Josef is 'n boom wat vrugte dra,

'n vrugteboom by die fontein,

sy takke groei oor die omheining.

23Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan,

hulle is baie en hulle is sy vyande.

24Maar hulle boog misluk elke keer,

hulle sterk arms bewe,

want die magtige God van Jakob gryp in,

die Rots van Israel beskerm hom.

25Die God van jou vader sal jou help, Josef,

die Almagtige sal jou seën,

Hy seën jou met reën uit die hemel,

met water diep onder die grond uit,

met moeders wat hulle kinders voed,

met baie kinders.

26Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk,

sterker as dié van die ou-ou berge,

as die kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is.

Daardie seëninge kom op Josef,

op hom wat die leier van sy broers sal wees.

27“Benjamin is 'n wolf wat prooi verskeur:

vroeg in die môre eet hy buit,

in die aand vang hy sy prooi.”

28Dit is al twaalf die stamme van Israel. So het hulle pa met hulle gepraat toe hy hulle geseën het. Hy het hulle een vir een geseën, elkeen met 'n eie seën.

Jakob se dood en begrafnis

29Jakob het vir sy kinders gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my gaan begrawe in die familiegraf, in die grot op die grond van die Hetiet Efron. 30Dit is die Makpelagrot teenoor Mamre in Kanaän. Abraham het die stuk grond by die Hetiet Efron gekoop om 'n begraafplek te hê. 31Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe, Isak en sy vrou Rebekka is daar begrawe, en daar het ek vir Lea begrawe. 32Abraham het die grond en die grot daarop by die Hetiete gekoop.”

33Toe Jakob klaar gepraat het, het hy gaan lê, die asem uitgeblaas en gesterf.

GENESIS 50

1Josef het toe oor sy pa gebuk en hom al huilende gesoen. 2Daarna het Josef die dokters in sy diens beveel om die lyk van sy pa te balsem. Hulle het toe vir Israel gebalsem. 3Dit het veertig dae gevat om 'n lyk te balsem, en Egipte het sewentig dae lank oor Jakob gerou. 4Toe hierdie routyd verby was, het Josef vir die amptenare van die farao gesê: “As julle my goedgesind is, praat dan tog met die farao en sê vir hom 5my vader het my 'n eed laat aflê dat ek hom, wanneer hy eendag sterf, sal gaan begrawe in die graf wat hy vir hom in Kanaän reggemaak het. Ek wil hom nou gaan begrawe en dan sal ek terugkom.”

6Die farao het geantwoord: “Gaan, en begrawe jou vader soos hy jou met 'n eed laat beloof het.”

7Josef is toe weg om sy pa te gaan begrawe. Al die amptenare van die farao, die raadgewers van die paleis en die leiers van Egipte is met hom saam, 8die hele familie van Josef en sy broers en die familie van sy pa is ook saam. Net die kinders, die kleinvee en die grootvee het in die Gosenstreek agtergebly. 9Waens en perde is met Josef saam. Dit was 'n baie groot stoet.

10Toe hulle by die dorsvloer van Atad oos van die Jordaan kom, het hulle sewe dae lank daar getreur en gerou oor hulle pa. Hulle het baie getreur oor hom.

11Die mense van Kanaän het hulle daar by die dorsvloer van Atad sien rou en gesê: Egipte is swaar in rou. Daarom noem hulle hierdie plek aan die oostekant van die Jordaan Abel-Misrajim.

12Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa gesê het. 13Hulle het hom Kanaän toe gevat en gaan begrawe in die Makpelagrot op die grond wat deur Abraham by die Hetiet Efron as 'n begraafplek gekoop is. Die grond lê oos van Mamre. 14Na die begrafnis is Josef en sy broers en almal wat met hom saam is om sy pa te gaan begrawe, terug Egipte toe.

15Na hulle pa se dood het Josef se broers gevra: “En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het?”

16Daarom het hulle 'n boodskap na hom toe gestuur: “Voor sy dood het u vader beveel: 17‘Julle moet vir Josef vra om tog die groot misdaad teen hom, die onreg wat julle hom aangedoen het, te vergewe.’ Vergeef ons tog nou die misdaad. Ons dien ook die God van u vader.”

Josef het gehuil oor wat hulle vir hom laat weet het.

18Daarna het die broers na Josef toe gegaan en voor hom op hulle knieë geval en gesê: “Hier is ons voor u. Ons is u slawe.”

19Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. 20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het. 21Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.”

Josef het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.

Die dood van Josef

22Josef het in Egipte gebly, hy en sy hele familie. Hy het honderd en tien jaar oud geword. 23Hy het die kleinkinders van Efraim gesien, en hy kon nog die kinders van Manasse se seun Makir as sy eie aanneem.

24Josef het vir sy broers gesê: “Na my dood sal God na julle omsien en Hy sal julle uit hierdie land uit laat trek na die land toe wat Hy met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob.”

25Josef het die seuns van Israel met 'n eed laat beloof: “Wanneer God na julle omsien en julle laat trek, moet julle my liggaam van hier af saamvat.”

26Josef is dood toe hy honderd en tien jaar oud was. Hulle het hom gebalsem en hom daar in Egipte in 'n kis gesit.

PSALMS 31

My tye is in u hand

1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid.

2By U, Here, skuil ek.

Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!

Bevry my, want U is getrou.

3Luister na my, red my tog gou.

Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,

'n bergvesting om my te red.

4Ja, U is my rots en my bergvesting,

ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.

5Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het,

want U is my toevlug.

6In u hande gee ek my lewe oor,

want, Here, troue God, U het my vrygemaak.

7Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode;

my vertroue stel ek in die Here.

8Ek wil jubel en juig oor u troue liefde:

U was nie onverskillig teenoor my ellende nie;

U het die bedreiging van my lewe raakgesien

9en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie;

U het my 'n veilige staanplek gegee.

10Wees my genadig, Here, want ek is in die nood;

van verdriet het my oë swak geword,

ja, alles in my.

11My lewe vergaan van kommer

en my jare van swaarkry;

deur my ellende word my krag geknak

en teer my liggaam uit.

12Ek is die spot van al my teëstanders,

veral van my bure,

'n verskrikking vir al my bekendes.

Dié wat my op straat sien, vlug vir my.

13Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is,

ek het geword soos 'n ding wat lê en vergaan.

14Ek hoor dreigemente van baie;

dit dreig van alle kante af.

Baie span teen my saam

en smee planne om my lewe te neem.

15Maar ek vertrou op U, Here,

ek sê: U is my God.

16My tye is in u hand.

Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!

17Verskyn tog tot my redding,

red my deur u onfeilbare liefde.

18Here, laat my nie teleurgestel staan in my verwagting as ek U aanroep nie.

Laat die goddelose teleurgestel staan in hulle verwagting,

laat hulle die stilte van die doderyk ingaan.

19Bring die leuenaars tot swye,

dié wat vol is van hulleself en in hoogmoed en veragting teen die regverdige praat.

20Hoe groot is u goedheid:

dit is altyd daar vir dié wat U dien,

U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil.

21Deur u teenwoordigheid beskerm U hulle teen die sameswering van mense.

U steek hulle weg vir dié wat vir hulle beskuldig.

22Aan die Here kom die lof toe,

want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon toe ek beleër was.

23Ek het in my angs gedink:

Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp.

Tog, U het geluister na my gesmeek

toe ek na U om hulp geroep het.

24Betuig julle liefde vir Hom,

julle almal wat die guns van die Here geniet.

Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is,

maar dié wat teen Hom opstandig is,

straf Hy swaar.

25Wees dus sterk en hou goeie moed,

julle almal wat julle vertroue in die Here stel.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS