Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 148

2 KRONIEKE 22–26, PSALM 121

Bybelteks(te)

2 KRONIEKE 22

Ahasia

1Die inwoners van Jerusalem het vir Ahasia, die jongste seun van Joram, koning gemaak in sy pa se plek. Die ouer seuns is dood toe die bende Arabiere die inval gemaak het. So het Ahasia seun van koning Joram van Juda aan die bewind gekom. 2Hy was twee en veertig toe hy koning geword het en was 'n jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Atalia, 'n dogter van Omri.

3Ook hy het die pad van die koningshuis van Agab geloop; sy ma was die een wat hom die raad gegee het om so verkeerd op te tree. 4Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos die koningshuis van Agab, want na sy pa se dood was hulle sy raadgewers, en dit het sy ondergang beteken.

5Dit was ook op hulle advies dat hy saam met Joram seun van koning Agab van Israel betrokke geraak het in 'n oorlog teen koning Gasael van die Arameërs in Ramot in Gilead. Joram is deur die Arameërs gewond 6en is terug na Jisreël toe om te genees van die wonde wat hy in Ramot opgedoen het toe hy teen die Aramese koning Gasael geveg het. Koning Asarja van Juda, seun van Joram, het vir Joram seun van Agab in Jisreël gaan besoek, want Joram was siek. 7Ahasia se ondergang met sy besoek aan Joram is deur God beskik. Na sy aankoms het hy saam met Joram opgetrek teen Jehu seun van Nimsi. Die Here het vir Jehu aangewys om die koningshuis van Agab uit te roei, 8en Jehu was toe juis besig om die straf van God oor die koningshuis van Agab te voltrek. Hy het die amptenare van Juda en die seuns van Ahasia se broers wat in Ahasia se gevolg was, raakgeloop en hulle doodgemaak. 9Daarna het hy na Ahasia gesoek. Ahasia is gevang waar hy in Samaria probeer wegkruip het, en na Jehu toe gebring, waar hy ook doodgemaak is. Ahasia is behoorlik begrawe, want die mense het gesê: “Hy is die kleinseun van Josafat, en Josafat het die Here met sy hele hart gedien.”

In dié stadium was daar niemand uit die koningshuis van Ahasia wat die regering kon oorneem nie.

Joas word koning

(Vgl. 2 Kon. 11:1 – 12:3)

10Toe Ahasia se ma, Atalia, hoor haar seun is dood, het sy al die aanspraakmakers op die troon van Juda uit die weg geruim. 11Een van die prinsesse, Jehoseba, het egter vir Joas, 'n seun van Ahasia, gegryp en hom stilletjies weggevat tussen die prinse wat doodgemaak sou word. Sy het hom en sy oppasster na 'n slaapkamer toe geneem en hom daar weggesteek sodat Atalia hom nie kon kry om hom te laat doodmaak nie. Jehoseba was 'n dogter van koning Joram en 'n suster van Ahasia. Sy was getroud met die priester Jojada. 12Joas is ses jaar by hulle in die tempel versteek, en in dié tyd het Atalia die land geregeer.

2 KRONIEKE 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 23

1In die sewende jaar het Jojada besluit om op te tree. Hy het 'n paar bevelhebbers oor honderd in sy vertroue geneem: Asarja seun van Jerogam, Ismael seun van Joganan, Asarja seun van Obed, Maäseja seun van Adaja, en Elisafat seun van Sikri. 2Hulle het in Juda rondgegaan en die Leviete uit al die stede van Juda bymekaargemaak, en ook die familiehoofde van Israel. Almal is na Jerusalem toe, 3en daar het die hele gemeente in die tempel 'n verbond met koning Joas gesluit. Jojada het vir hulle gesê: “Die seun van koning Ahasia moet koning word volgens die belofte van die Here oor die nageslag van Dawid. 4Dit is julle opdragte: 'n derde van julle, van dié wat op die sabbat diens doen as priesters en Leviete, moet drumpelwagte wees; 5'n derde moet by die paleis wees, en die ander derde by die Fondamentpoort. Al die ander mense moet in die voorhof van die huis van die Here wees. 6Niemand mag in die huis van die Here ingaan nie behalwe die priesters en die Leviete wat daar diens doen. Húlle kan ingaan, want hulle is daartoe gewy. Al die ander mense moet hulle aan die bepalings van die Here hou. 7Die Leviete moet om die koning wees, elkeen met sy wapen in sy hand. Enigiemand anders wat in die tempel wil ingaan, moet doodgemaak word. Bly by die koning, oral waar hy gaan.”

8Die Leviete en die hele Juda het alles gedoen wat die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat op die sabbat diens moes doen sowel as dié wat klaar was met hulle diens, want die priester Jojada het nie die priesterafdelings laat verdaag nie. 9Daarna het Jojada die spiese en die groot skilde en die klein ronde skilde wat nog aan koning Dawid behoort het en in die tempel van God was, aan die bevelhebbers oor honderd uitgedeel. 10Hy het al die manne, elkeen met sy spies in die hand, om die koning laat staan, naby die altaar en die tempel, van die suidekant tot by die noordekant van die tempel.

11Toe bring hulle die seun van die koning vorentoe en kroon hom en oorhandig aan hom die koninklike volmag. So het hulle hom koning gemaak. Jojada en sy seuns het hom gesalf en geroep: “Lank lewe die koning!”

12Atalia het gehoor hoe die mense hardloop en die koning huldig, en het ook na die huis van die Here toe gegaan waar hulle was. 13Daar sien sy toe die koning staan op sy plek by die ingang, en die volksleiers en die trompetblasers by hom, en al die burgers van die land wat juig en trompette blaas, en die sangers met hulle musiekinstrumente wat die jubelsang lei. Toe skeur Atalia haar klere en skreeu: “Verraad! Verraad!”

14Die priester Jojada stuur toe die bevelhebbers oor honderd wat in beheer van die manskappe was, en sê vir hulle: “Bring haar uit die tempel uit! Elkeen wat agter haar aan gaan, moet doodgemaak word. Sy mag nie in die huis van die Here sterf nie.”

15Hulle het haar gegryp en haar na die Perdepoort by die paleis gevat en haar daar doodgemaak.

16Jojada het met die volk en die koning 'n verbond gemaak dat hulle 'n volk sal wees wat die Here dien. 17Daarna het die hele volk na die Baälstempel toe gegaan en dit verwoes. Hulle het die altare en die beelde stukkend geslaan en vir Mattan, die Baälspriester, by die altare doodgeslaan. 18Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer toevertrou aan die priesters en die Leviete wat deur Dawid daarvoor aangewys is. Hulle moes die brandoffers vir die Here bring soos dit voorgeskryf is in die wet van Moses, met gejuig en met sang soos Dawid dit gereël het. 19Hy het ook wagte by die poorte van die huis van die Here geplaas sodat niemand kon inkom wat op die een of ander wyse onrein was nie.

20Daarna het Jojada die bevelhebbers oor honderd, die hooggeplaastes, die hoë regeringsamptenare en al die burgers van die land met hom saamgeneem en die koning uit die huis van die Here gebring. Hulle het deur die Boonste Poort na die paleis toe gegaan, en daar het hulle die koning sy plek op die troon laat inneem.

21Al die burgers van die land was bly. Die stad was rustig. Atalia was dood.

2 KRONIEKE 23AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 24

Joas laat die tempel herstel

(Vgl. 2 Kon. 12:1-16)

1Joas was sewe toe hy koning geword het en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sibja, uit Berseba. 2Solank die priester Jojada geleef het, het Joas gedoen wat reg is in die oë van die Here. 3Jojada het vir Joas twee vrouens gekies, en Joas het seuns en dogters gehad.

4Joas het besluit om herstelwerk aan die huis van die Here te doen. 5Hy het die priesters en die Leviete bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan die stede van Juda deur en samel by al die Israeliete geld in om die huis van julle God te herstel soos dit van jaar tot jaar nodig mag wees. Doen dit dadelik.”

Die Leviete het die opdrag egter nie dadelik uitgevoer nie, 6en die koning het die hoëpriester Jojada laat roep en vir hom gevra: “Waarom het jy nie toegesien dat die Leviete die bydraes uit Juda en Jerusalem inbring nie? Dit is tog die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, van die gemeente van Israel gevra het vir die tent met die getuienis!”

7Dit was die goddelose Atalia en haar volgelinge wat die tempel in verval laat raak het. Hulle het selfs die wydingsgeskenke van die huis van die Here vir die Baäls gebruik.

8In opdrag van die koning is daar toe 'n kis gemaak en voor die tempelpoort gesit, 9en in Juda en in Jerusalem is aangekondig dat die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, in die woestyn al van Israel gevra het, vir die Here gebring moes word. 10Al die leiers en die hele volk het die geld met blymoedigheid gebring en in die kis gegooi. So het al die bydraes ingekom.

11Telkens wanneer die kis na die Leviete toe gebring is vir kontrole namens die koning, en hulle vasgestel het dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en 'n beampte van die hoëpriester gekom en die kis leeggemaak. Dit is dan weer op sy plek terug gesit. So het hulle elke keer gedoen, en daar is baie geld ingesamel.

12Die koning en Jojada het die geld oorhandig aan die mense wat vir die instandhouding van die huis van die Here moes sorg, en dié het klipkappers en ander vakmanne in diens geneem om die huis van die Here te herstel, en ook vakmanne in yster en brons vir die opknapwerk. 13Die werkers het gewerk en die herstelwerk het vinnig gevorder. Hulle het die tempel herbou sodat dit weer was soos vroeër; hulle het dit weer sterk gemaak.

14Nadat die werk afgehandel is, is die geld wat oorgebly het, aan die koning en Jojada oorhandig, wat daarmee tempelgereedskap laat maak het: gereedskap vir die tempeldiens en die offers, panne, en ook goue en silwergereedskap. Solank Jojada geleef het, is daar voortdurend brandoffers by die tempel gebring.

15Jojada het 'n hoë ouderdom bereik. Hy is dood toe hy honderd en dertig jaar was. 16Hy is in die Dawidstad begrawe, by die konings, omdat hy goeie werk gedoen het vir Israel, vir God en sy tempel.

Joas se sonde en dood

(Vgl. 2 Kon. 12:19-21)

17Na die dood van Jojada het die leiers van Juda die koning kom ophemel, en hy het hom dit laat geval. 18Toe het hulle die huis van die Here die God van hulle voorvaders verlaat en gewyde pale en afgodsbeelde gaan dien. Met dié sondige optrede van hulle het Juda en Jerusalem die toorn van die Here op hulle gehaal. 19Die Here het profete na hulle toe gestuur om hulle na Hom toe terug te bring, en die profete het hulle gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie.

20Die Gees van God het vir Sagaria seun van die priester Jojada in besit geneem. Sagaria het voor die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Dit sal nie met julle goed gaan nie. Omdat julle die Here verlaat het, sal Hy julle verlaat.”

21Maar hulle het 'n vals aanklag teen Sagaria bedink en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die Here. 22Koning Joas het nie gedink aan die liefde wat sy pleegvader Jojada aan hom bewys het nie. Hy het Jojada se seun vermoor. Sagaria het, toe hy sterf, gesê: “Die Here sien dit, Hy sal julle straf!”

23Met die wisseling van die jaar het die leër van die Arameërs 'n aanval op Joas gemaak. Hulle het Juda en Jerusalem binnegedring, al die leiers van die volk doodgemaak en die buit wat hulle gemaak het, vir die koning van Damaskus gestuur. 24Die Aramese leër het met 'n klein klompie manskappe gekom, en die Here het 'n baie groot leër in hulle mag oorgegee. Dit was omdat die volk die Here die God van hulle voorvaders verlaat het. Die Arameërs het die straf van God oor Joas voltrek. 25Toe hulle weggaan, het hulle hom swaar gewond agtergelaat, en sy eie amptenare het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van die priester Jojada laat doodmaak het.

So is Joas dood. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in 'n koningsgraf nie. 26Die manne wat teen hom saamgesweer het, was die Ammoniet Sabad seun van Simat en die Moabiet Josabad seun van Somer. 27Die gegewens oor sy seuns, oor die grootte van die afkoopsom wat hy moes betaal, en oor die herbou van die tempel, is opgeneem in Die Kommentaar op die Boek van die Konings. Sy seun Amasia het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 24AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 25

Amasia wreek die dood van sy pa

(Vgl. 2 Kon. 14:1-6)

1Amasia het koning geword toe hy vyf en twintig was en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem. 2Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie. 3Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare deur wie sy pa, die koning, vermoor is, laat doodmaak. 4Hy het nie hulle kinders ook laat doodmaak nie, want, soos op bevel van die Here geskrywe staan in die wet, in die boek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”

Amasia verslaan die Edomiete en dien hulle gode

(Vgl. 2 Kon. 14:7)

5Amasia het die manskappe van Juda bymekaar laat kom en hulle familiegewys ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd – die hele Juda, en ook Benjamin. Hy het dié van twintig jaar en ouer laat tel, en daar is gevind dat hulle drie honderd duisend was, geskik vir militêre diens en gewapen met spies en skild. 6Vir sowat drie en 'n halwe ton silwer het hy uit Israel nog honderd duisend soldate gehuur.

7Toe kom daar 'n man van God na hom toe en sê: “Moenie die leër van Israel met u laat saamgaan nie, want die Here is nie by Israel, by die Efraimiete, nie. 8As u dit tog doen, doen dit dan, maar dan sal u krag nodig hê vir die stryd, want God sal u dan voor die vyand laat swig. God het die mag om te help of om te laat swig.”

9Maar Amasia vra vir die man van God: “En wat dan van die drie en 'n halwe ton silwer wat ek vir die Israelitiese leërafdeling betaal het?”

En die man van God antwoord: “Die Here kan u meer as dit gee.”

10Amasia het toe die leërafdeling wat uit Efraim by hom aangesluit het, ontslaan en huis toe laat gaan. Hulle was bitter kwaad vir Juda en is woedend terug huis toe.

11Daarna het Amasia die nodige moed bymekaargeskraap en sy manne na die Soutvlakte toe gelei waar hy tien duisend Edomiete verslaan het. 12Bowendien het die manne van Juda nog tien duisend lewendig gevange geneem, hulle bo op 'n krans gebring en hulle daar afgegooi. Almal het hulle te pletter geval.

13Intussen het die lede van die leërafdeling wat deur Amasia teruggestuur is sodat hulle nie saam met hom op die veldtog kon gaan nie, 'n strooptog teen die stede van Juda gemaak, van Samaria af tot by Bet-Goron. Hulle het drie duisend mense doodgemaak en baie buit weggedra.

14Toe Amasia van sy oorwinning oor die Edomiete af terugkom, het hy hulle afgodsbeelde saamgebring en die beelde vir homself opgestel as gode. Hy het hulle vereer en vir hulle offerandes gebring. 15Hieroor het die toorn van die Here teen Amasia ontvlam. Die Here het 'n profeet na hom toe gestuur en vir hom gesê: “Waarom dien jy gode wat nie hulle eie volk uit jou hande kon red nie?”

16Maar Amasia het die profeet in die rede geval: “Is jy aangestel as raadgewer van die koning? Bly stil. Soek jy jou dood?”

Die profeet het dit toe daargelaat en gesê: “Ek weet nou dat God besluit het om u te vernietig. U maak daarna en u wil nie na my raad luister nie.”

Die neerlaag teen Israel

(Vgl. 2 Kon. 14:8-14)

17Koning Amasia van Juda het op advies van sy raadgewers 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas: “Kom ons veg teen mekaar.”

18Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat. 19Jy dink noudat jy vir Edom verslaan het, kan jy meer roem soek. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?”

20Amasia het hom nie laat waarsku nie, want God het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee. Dit was omdat Amasia-hulle die gode van Edom gedien het. 21Koning Joas van Israel het toe opgetrek en hy en koning Amasia van Juda het slaags geraak in Bet-Semes in Juda. 22Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe. 23Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Joahas, gevange geneem in Bet-Semes en hom na Jerusalem toe gebring. Daar het Joas 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter. 24Hy het al die goud en silwer gevat, al die tempelgereedskap wat destyds in die tempel by Obed-Edom was, die koninklike skat, en ook nog gyselaars, en toe is hy terug Samaria toe.

Die dood van Amasia

(Vgl. 2 Kon. 14:17-20)

25Amasia seun van koning Joas van Juda het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef. 26Die ander verhale oor Amasia, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel. 27Van die tyd dat Amasia van die Here af weggedraai het, was daar in Jerusalem sameswerings teen hom. Hy het na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen en hulle het hom daar doodgemaak. 28Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hom in sy familiegraf in die hoofstad van Juda begrawe.

2 KRONIEKE 25AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 26

Ussia se voorspoedige regering

(Vgl. 2 Kon. 15:1-4)

1Die bevolking van Juda het vir Ussia gevat en hom in Amasia, sy pa, se plek koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud 2en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.

3Ussia was sestien toe hy koning geword het en hy het twee en vyftig jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jekolja, uit Jerusalem. 4Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy pa gevolg. 5Hy het na die wil van God gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, wat insig in die openbaring van God gehad het. In die tyd dat Ussia na die wil van die Here gevra het, het God dit goed laat gaan met hom.

6Hy het 'n veldtog onderneem teen die Filistyne, en hy het die mure om Gat, Jabne en Asdod afgebreek en stede gebou in die omgewing van Asdod en in die res van die Filistynse gebied. 7God het hom gehelp teen die Filistyne, teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. 8Die Ammoniete het vir Ussia geskenke gebring, en sy naam het tot by Egipte bekend geword, so het sy mag toegeneem.

9Ussia het in Jerusalem stewige forte gebou by die Hoekpoort, by die Dalpoort en by die draai in die muur. 10Ook in die weiveld het hy forte gebou en baie putte laat grawe, want hy het baie vee gehad, in die Laeveld en op Platorand. In die berge en op die Karmel het hy mense gehad wat sy lande en sy wingerde bewerk het. Hy was lief vir die grond.

11Ussia het 'n leër gehad wat in afdelings uitgetrek het. Die telling en indeling is gedoen deur die sekretaris Jeïel en die amptenaar Maäseja, onder toesig van Gananja, 'n beampte van die koning. 12Daar was altesaam twee duisend ses honderd familiehoofde in bevel van die soldate. 13Die leër onder hulle bevel was drie honderd en sewe duisend vyf honderd, kragtige vegters op wie die koning kon reken teen 'n vyand. 14Ussia het hulle, die hele leër, uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en klippe vir hulle slingervelle. 15In Jerusalem het hy uitvindsels gehad wat deur slim mense ontwerp is en wat bo van die forte en van die hoeke af pyle en groot klippe kon afskiet.

Sy roem het wyd gestrek. Hy het op 'n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het 'n magtige man geword.

Ussia word melaats

(Vgl. 2 Kon. 15:5)

16Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring. 17Die priester Asarja, met tagtig priestersoldate by hom, het agter koning Ussia aan gegaan 18en hom probeer keer en vir hom gesê: “Dit kom u nie toe om vir die Here wierookoffers te bring nie, Ussia! Om wierookoffers te bring, is die voorreg van die priesters, die nageslag van Aäron. Hulle is daartoe gewy. Gaan liewer uit die heiligdom uit. U matig u dinge aan, en u sal daarvoor geen waardering kry van God die Here nie.”

19Ussia het al die wierookpan in sy hand gehad om die offer te bring, en hy het briesend geword. Maar terwyl hy teen die priesters uitvaar, breek daar melaatsheid op sy voorkop uit voor die oë van die priesters daar in die huis van die Here, by die wierookaltaar. 20Toe die hoëpriester Asarja en al die ander priesters na hom kyk, is hy melaats op sy voorkop. Hulle het hom daar uitgedrywe, en hy was self haastig om weg te kom; die Here het hom met dié ramp getref.

21Koning Ussia was melaats tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gaan woon, melaats en verban uit die huis van die Here. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die mense van die land geregeer.

Die dood van Ussia

(Vgl. 2 Kon. 15:6-7)

22Die ander verhale oor Ussia, dié van vroeër en dié van later, is neergeskryf deur die profeet Jesaja seun van Amos. 23Ussia is oorlede, en hy is begrawe in die begraafplaas van die konings, maar nie in die familiegraf nie, want die mense het gesê: “Hy was melaats.” Sy seun Jotam het hom as koning opgevolg.

2 KRONIEKE 26AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 121

My hulp kom van die Here

1'n Pelgrimslied.

Ek kyk op na die berge:

waarvandaan sal daar vir my hulp kom?

2My hulp kom van die Here

wat hemel en aarde gemaak het.

3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;

Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

4Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie

en Hy slaap nie.

5Die Here beskerm jou,

die Here bewaar jou van alle gevare.

6Bedags sal die son jou nie steek nie

en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.

7Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,

jou lewe sal Hy beskerm.

8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,

nou en vir altyd.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS