Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 7

Genesis 21–24, Johannes 12–13

Bybelteks(te)

GENESIS 21

Die geboorte van Isak

1Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. 2Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het. 3Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem. 4Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was. 5Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is.

6Sara het toe gesê: “God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.”

7Sy het verder nog gesê: “Wie sou vir Abraham kon sê dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.”

Abraham stuur vir Hagar weg

8Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham 'n groot fees gehou. 9Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag, 10sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.”

11Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het, 12maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. 13Tog sal Ek die seun van die slavin 'n nasie laat word, want hy is jou kind.”

14Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. 15Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit 16en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. 17God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. 18Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”

19Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. 20God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. 21Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met 'n vrou uit Egipte laat trou.

Abraham en Abimelek sluit 'n ooreenkoms

22Destyds het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, na Abraham toe gegaan, en Abimelek het vir hom gesê: “God is by jou in alles wat jy aanpak. 23Beloof my dan nou met 'n eed in die Naam van God dat jy nie vals sal optree teen my of my kinders of my kleinkinders nie, dat jy net so eerbaar sal optree teenoor my en teenoor die land waarin jy nou woon, as wat ek teenoor jou opgetree het.”

24Toe het Abraham gesê: “Ek beloof dit.”

25Abraham het toe by Abimelek beswaar gemaak oor die waterput wat deur Abimelek se slawe afgevat is. 26Toe sê hy vir Abraham: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het my dit ook nie voorheen vertel nie. Ek hoor nou eers daarvan.”

27Daarna het Abraham kleinvee en grootvee gevat en vir Abimelek gegee, en hulle twee het 'n ooreenkoms gesluit. 28Abraham het ook nog sewe skaaplammers uit sy trop uitgekeer, 29en Abimelek het vir hom gevra: “Wat wil jy maak met die sewe skaaplammers wat jy uitgekeer het?”

30Abraham het geantwoord: “Jy moet hierdie sewe lammers by my vat en daarmee erken dat ek hierdie put gegrawe het.”

31Die plek word Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed teenoor mekaar afgelê.

32Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gesluit het, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na die land van die Filistyne toe, 33en Abraham het 'n tamarisk by Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep. 34Abraham het lank in die land van die Filistyne gewoon.

GENESIS 22

Abraham moet vir Isak offer

1'n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

3Vroeg die volgende môre het Abraham 'n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”

6Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en 'n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”

Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:

“Abraham, Abraham!”

Hy het geantwoord: “Hier is ek!”

12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom 'n skaapram wat aan sy horings in 'n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”

15Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16-17en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê 'n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

19Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.

Nahor se seuns

20'n Rukkie na hierdie gebeurtenis is aan Abraham vertel dat Milka, sy broer Nahor se vrou, kinders vir sy broer in die wêreld gebring het. 21Hulle was: Us die oudste, sy broer Bus, Kemuel die voorvader van die Arameërs, 22en ook nog Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. 23Betuel was die pa van Rebekka. Milka het hierdie ag seuns in die wêreld gebring vir Abraham se broer Nahor. 24Nahor het 'n byvrou gehad. Haar naam was Reüma en sy het ook kinders gehad: Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

GENESIS 23

Sara se graf word gekoop

1Sara het honderd sewe en twintig jaar oud geword. 2Sy is oorlede in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in Kanaän. Abraham het oor haar gaan rou en huil. 3Daarna het hy die lyk daar gelaat en vir die Hetiete gaan sê: 4“Ek is 'n vreemdeling, 'n bywoner by julle. Gee vir my 'n vaste besitting as graf hier by julle sodat ek my vrou daarin kan begrawe.”

5Die Hetiete het hom geantwoord: 6“Luister na ons, Meneer! Ons beskou u as 'n baie belangrike man. Begrawe u vrou in die beste graf hier by ons. Niemand van ons sal weier dat u u vrou in sy graf begrawe nie.”

7Daarna het Abraham opgestaan en voor die Hetiete, die volksleiers, gebuig. 8Hy het vir hulle gesê: “As julle instem dat ek my vrou hier kan begrawe, luister dan na my en doen voorspraak by Efron seun van Sogar 9dat hy die Makpelagrot aan die kant van sy grond aan my afstaan. Hy moet dit in julle teenwoordigheid teen die volle markprys aan my verkoop dat ek dit as begraafplek kan besit.”

10Efron die Hetiet het tussen die Hetiete gesit en daar waar al die Hetiete wat die stadspoort binnekom, dit kon hoor, het hy vir Abraham gesê: 11“Nee, Meneer, luister na my. Ek gee die stuk grond vir u, ook die grot wat daarop is. Ek gee dit vir u in die teenwoordigheid van my volksgenote. Begrawe u vrou daar.”

12Toe het Abraham weer voor die volksleiers gebuig 13en waar hulle almal dit kon hoor, het hy vir Efron gesê: “Nee, luister tog maar na my! Ek betaal die volle prys vir die grond. Vat die geld by my, sodat ek my vrou daar kan begrawe.”

14Efron het toe vir Abraham gesê: 15“Meneer, luister na my! Moenie dat ons stry oor 'n stukkie grond wat vier en 'n half kilogram silwer werd is nie. En dit om u vrou te begrawe!”

16Toe het Abraham ingestem en die silwer vir Efron afgeweeg wat hy in die teenwoordigheid van die Hetiete genoem het: vier en 'n half kilogram silwer soos dit in die handel afgeweeg word.

17-18So het die stuk grond van Efron in Makpela waarop die grot is en wat oos van Mamre geleë is, Abraham se eiendom geword in die teenwoordigheid van die Hetiete en almal wat by die stadspoort inkom: die grond met die grot daarop en al die bome op die grond, sover as die grense daarvan gestrek het. 19Daarna het Abraham sy vrou Sara begrawe in die Makpelagrot op die stuk grond, oos van Mamre, dit is Hebron in Kanaän. 20So het die stuk grond met die grot daarop uit die hande van die Hetiete oorgegaan na Abraham as begraafplek wat aan hom behoort.

GENESIS 24

Rebekka word Isak se vrou

1Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. 2Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup 3dat jy vir my met 'n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie; 4jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar 'n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie. 7Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met 'n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun 'n vrou van my land af sal kan bring. 8As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met 'n eed beloof om dit alles te doen.

10Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het. 11Daar het hy die kamele by 'n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep. 12Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. 13Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. 14As ek vir 'n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

15Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer. 16Die meisie was baie mooi, 'n jongmeisie met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim. 17Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.”

18En sy sê: “Drink gerus, Meneer!”

Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.”

20Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep.

21Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie. 22Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy 'n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms, 23en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?”

24Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26Toe het die man gekniel en tot die Here gebid: 27“Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29-30Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein. 31Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is 'n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

33Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”

Laban het gesê: “Praat gerus!”

34Toe sê die man: “Ek is 'n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. 37My eienaar het my 'n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. 38Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun 'n vrou gaan haal.’ 39Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’ 40en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy 'n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. 41Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. 43Hier staan ek by die fontein waar 'n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my 'n bietjie water uit haar kruik te laat drink, 44en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’ 46Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. 47Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. 51Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”

52Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig. 53Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma. 54Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”

55Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog 'n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”

56Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”

57Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”

Sy het geantwoord: “Ja!”

59Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan. 60Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:

“Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word,

mag hulle die stede van hulle vyande verower!”

61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon. 63Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. 64Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring 65en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”

Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en 67Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

JOHANNES 12

Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf

(Matt. 26:6-13; Mark. 14:3-9)

1Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus 'n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Die besluit om Lasarus ook dood te maak

9Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. 10Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, 11omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

Die intog van Jesus in Jerusalem

(Matt. 21:1-11; Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-40)

12Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:

“Prys Hom!

Loof Hom wat in die Naam

van die Here kom!”

en:

“Die Koning van Israel!”

14Jesus het toe op 'n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:

15“Moenie bang wees nie, Sion!

Kyk, jou Koning kom,

en Hy ry op 'n donkie.”

16Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.

17Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. 18Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. 19Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”

Die tyd van sy verheerliking het gekom

20Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”

Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.”

30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”

33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”

35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net 'n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”

Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Die gevolg van Jesus se optrede

37Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie. 38So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word:

“Here, wie het geglo

wat ons gehoor het?

En aan wie is die mag van die Here

geopenbaar?”

39Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders:

40“God het hulle oë blind gemaak

en hulle verstand laat afstomp

sodat hulle nie met hulle oë kan sien

en met hulle verstand kan verstaan

en hulle bekeer

en Ek hulle gesond maak nie.”

41Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het.

42Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; 43want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.

44Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. 45En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. 46Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. 47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. 49Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. 50En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”

JOHANNES 13

Jesus was die voete van sy dissipels

1Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.

2Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. 3Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. 4Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”

7En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.”

8Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”

Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

10En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

11Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? 13Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. 16Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. 17Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

Jesus wys sy verraaier aan

(Matt. 26:21-25; Mark. 14:18-21; Luk. 22:21-23)

18“Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’ 19Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is. 20Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”

21Na hierdie woorde het Jesus hewig ontsteld geword en openlik verklaar: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22Die dissipels het verslae na mekaar gekyk en nie geweet wie Hy bedoel nie. 23Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, het net langs Hom aan tafel gesit. 24Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. 25Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?”

26Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.”

Hy vat toe 'n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. 27En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!”

28Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom gesê het nie. 29Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee.

30Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was nag.

Jesus se heengaan is naby

31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net 'n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt. 26:31-35; Mark. 14:27-31; Luk. 22:31-34)

36Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?”

Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.”

37Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”

38“Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Bible Society of South Africav.4.26.7
VOLG ONS