Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 1

Nogtans …

Bybelteks(te)

HABAKUK 3

17Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

18nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

19Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Vir die koorleier. Met snarespel.

HABAKUK 3:17-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dink vir ʼn oomblik aan ʼn tyd in jou lewe waarin jy ʼn geweldige uitdaging beleef het (of dalk ʼn reeks daarvan). Hoe het jou verhouding met God in hierdie tyd gelyk? Gee vir jouself ʼn punt uit tien waar 0 ʼn plek van totale godverlatenheid simboliseer en 10 ʼn intieme verhouding met God.

Dink nou vir ʼn oomblik aan ʼn tyd in jou lewe waartydens jy op jou gelukkigste was en oorvloed beleef het. Gee weer vir jouself ʼn punt uit 10 op hierdie skaal wat jou verhouding met God uitbeeld.

Waar lê jy vandag op hierdie skaal?

Verskil hierdie punte? Was dit dalk 9 of 10 in die moeilike tye omdat jy God werklik nodig gehad het en sy aangesig dag en nag vir jou deurbraak gesoek het? En was dit dalk 3 of 4 in die goeie tye omdat jy so besig was met ander dinge dat jy nie tyd gemaak het om in God se teenwoordigheid te gaan sit nie?

In Suid-Afrika beleef ons tans ʼn paar uitdagings. Sommige boere ervaar erge droogte op hulle plase. Ander mense ervaar weer die impak van die swak rand in die besigheidswêreld en ander beleef vrees vir die toekoms weens sekere politieke uitsprake. Het hierdie dinge ʼn effek op jou puntetelling op die skaal?

In die boek Habakuk smeek die profeet God om nie van die Israeliete te vergeet nie — al het hulle van God afgedwaal en uitdagings begin beleef. Hy beskryf God se grootheid en wie God is en in Habakuk 3:17-19 (1983-vertaling) lees ons sy bekende gebed: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ʼn ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

In ʼn ander Bybelvertaling word Habakuk se woorde weergegee as: “My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie.” Hoe word jou puntetelling op die skaal geaffekteer deur goeie en slegte tye in jou lewe?

Kan jy werklik soos Habakuk sê dat jy nogtans sal kies om in God te jubel en Hom as Redder te aanbid selfs al beleef jy uitdagings in die vorm van siekte, finansiële nood, werkloosheid, hartseer, gebroke verhoudings of droogte op jou plaas? Dit is wanneer ons dít doen, dat ons sy krag begin beleef. Hy sluimer en slaap nooit nie en niks is vir Hom onmoontlik nie. Kom ons nader tot Hom, want dan doen Hy dieselfde. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS