Nogtans – Dag 10
Nogtans sal ek gehoorsaam bly
Bybelteks(te)
Hier volg die verhaal van hoe Projek SOS100 begin het, waardeur Radio Tygerberg 104fm in die Kaapse Skiereiland geld ingesamel het om veevoer vir boere in droogtegeteisterde gebiede aan te koop.
Op Kersdag sit Adri Williams van ʼn nieregeringsorganisasie, Khayelitsha Cookies, saam met haar gesin en ouers langs ʼn etenstafel. Hoewel dit kreun onder die feesmaal daarop, kan sy nie ophou dink aan die klomp boere wat op dieselfde dag, weens die droogte en opgehoopte skuld, nie meer veevoer vir hulle vee kan aankoop nie — en self ook nie meer kos in hul huise het nie. Wie gaan na hulle omsien? Op haar voorstel dat hulle iets moet doen, sê haar pa aanvanklik: “Adri, jy kan nie almal in ons land help nie. Fokus eerder op jou eie nieregeringsorganisasie en help die mense daar.”
Die dringendheid in Adri se hart neem egter toe. Sy weet dit is ʼn opdrag van God. Dan neem sy die eerste stap van geloof. Sy skakel met die organisasie, Boere in Nood, om te bepaal waar in Suid-Afrika die nood vir veevoer die grootste is. Sy kry ʼn borgskap van MAN Truck and Bus vir die vervoer van die veevoer. Sy onderhandel met verskaffers vir ʼn goedkoper prys vir die veevoer en daarna neem sy die grootste stap: sy neem R17 000 van haar eie klein nieregeringsorganisasie (wat sy nie eintlik kon bekostig om te doen nie) en betaal vir die veevoer — in gehoorsaamheid aan God se opdrag.
Met die aflewering van die eerste besending veevoer, staan sy en haar pa langs die trok en kyk hoe groot, geharde boere staan en huil van dankbaarheid. Hulle huil saam. God het hulle gebruik om te wys dat Hy die boere se gebede vir verligting gehoor het. ʼn Week later kom Radio Tygerberg 104fm aan boord en Projek SOS100 word amptelik gebore.
In Deuteronomium 33:32-33 lees ons: “Julle moet nougeset doen wat die Here julle God julle beveel het. Julle moet nie in enige opsig daarvan afwyk nie … sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees.” Ook in 1 Samuel 15:22 lees ons dat gehoorsaamheid vir God baie waardevoller as offerandes is. Hy verkies dat ons gehoorsaam aan Hom sal wees, eerder as om met goeie idees te kom en te hoop dat Hy dit seën. God-geïnspireerde idees is immers reeds geseën.
Abraham moes vir Isak gaan offer. Josef was in die tronk opgesluit vir ʼn hele paar jaar. Adri moes R17 000 vir die veevoer betaal (wat sy nie eintlik kon bekostig nie). Omdat Abraham getrou was, het hy ʼn nageslag so baie soos die sterre van die naghemel gekry. Omdat Josef getrou aan God gebly het, is hy binne ʼn dag van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder. En Adri het gesien hoe haar R17 000 in ʼn week se tyd bykans R3 miljoen se bydraes word wat soos ʼn golf van hoop oor ons land spoel.
In al my jare as omroeper, het ek God nog nooit so tasbaar in enige projek beleef nie. Bydraes was ongekend en persoonlike getuienisse het ingestroom van hoe God luisteraars se “droogtetoestande” in hul eie persoonlike lewens verlig het omdat hulle in eenheid met sy saak was. Wat sou gebeur het as Adri nie gehoorsaam was nie? Wat vra God vandag van jou? Kom ons bly gehoorsaam en neem daardie eerste stap van geloof. Hy sal sorg vir die res. Sterkte.