Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 21

Nogtans sal ek jubel in my God

Bybelteks(te)

HABAKUK 3

17Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

18nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

19Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Vir die koorleier. Met snarespel.

HABAKUK 3:17-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek wil vandag die reeks met twee kort getuienisse afsluit wat bewys dat God, selfs in ons donkerste tye, dáár is:

Leser 1, Anna: “My man is drie jaar gelede met kanker gediagnoseer. Die laaste twee maande het hy baie gely en ons het telkens vir God gevra om hom te verlos — sou dit binne Sy wil vir my man wees. Op die einde is my man op 13 Februarie oorlede. Wat dit spesiaal maak, is dat ons twee dogters (een uit Gauteng en die ander uit Amerika) in daardie tyd beide by ons was. Ek was dus nie alleen nie. Ons kon ook alles afhandel voordat my dogter moes teruggaan Amerika toe. Haar kaartjie was reeds maande gelede al bespreek. God se tydsberekening is perfek en ek het net weereens besef dat Hy werklik omgee oor ons elkeen. Ek eer sy Naam! Amen.”

Leser 2, Koos: “In die eiendomsbedryf benodig ʼn mens kapitaal. Al is ons sʼn lankal uitgeput, het ek in hierdie tyd op ʼn nuwe manier beleef dat God ons Voorsiener is. Toe my kamera ingee weens ouderdom, ontdek ek die selfoon neem beter foto’s. Toe die anti-virus program verval, was daar fondse om weer ʼn nuwe jaar sʼn te betaal. Toe die mediese fonds uitgeput is en ons nie meer vroulief se R2 000 per maand medikasie vir haar ongeneeslike siekte kon bekostig nie, steek ons ons trots in ons sakke en “ontdek” ʼn wonderlike staatskliniek wat dit gratis gee. So kan ons aangaan en getuig van seëning op seëning uit God se hand. Hy voorsien en ons eer sy Naam dat Hy ons nooit in die steek laat nie!”

Habakuk het in Habakuk 3:17-19 gebid: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ʼn ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop” (1983-vertaling). In ʼn ander Bybelvertaling lees ons: “My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie.”

Mag ons aanhou om ons oë op Hom te plaas en sy aangesig te soek — in goeie en slegte tye (2 Kronieke 16:9). Ek is seker die hemel kom vir ʼn oomblik tot stilstand, wanneer God afkyk aarde toe en sien hoe een van ons, te midde van intense hartseer, droogte, teleurstelling, verlies of uitdagings, met ons gesig na die hemel (en soms met ons laaste krag) ʼn loflied sing om Hom te eer. Nie net omdat ons glo dat Hy vir ons die deurbraak kan bewerkstellig nie, maar omdat ons Hom liefhet. En mag Hy sien dat, selfs al kry ons nie waarvoor ons bid nie, ons Hom nogtans sal prys. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS