Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 4

Nogtans sal ek op U bly vertrou

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 3

8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

9Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg – kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet.

DIE OPENBARING 3:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 55

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gedurende 2009 het Jan Koum en Brian Acton by Yahoo! gewerk. Beide wou graag by die sosiale mediareus Facebook aansluit en het hulle werksaansoeke soontoe gestuur. Ongelukkig is beide se aansoeke van die hand gewys en was hulle baie teleurgesteld. Die twee het toe besluit om saam ʼn nuwe app vir slimfone te bou, naamlik WhatsApp.

Vyf jaar later, in 2014, het Koum en Acton die kletsdiens vir $19 miljard aan Facebook verkoop. Koum is terselfdertyd as die uitvoerende hoof van WhatsApp by Facebook aangestel. Sedertdien het die gebruikersgetalle van WhatsApp tot meer as 1,5 miljard gestyg, wat dit die wêreld se grootste kletsdiens maak. WhatsApp is ook in die meeste lande in die wêreld beskikbaar.

Soms beleef ons, net soos Koum en Acton, toe deure wat ons onkant betrap. Jy doen byvoorbeeld ook aansoek om ʼn werksgeleentheid by daardie “droommaatskappy” en word afgekeur, die verhouding wat jy oortuig was in ʼn huwelik sou eindig verbrokkel, die huwelik waarvoor jy hard geveg het eindig in ʼn egskeiding, of daardie siek persoon vir wie jy dag en nag gebid het, sterf.

Wanneer ons voor ʼn toe deur staan of ʼn teleurstelling beleef, is dit uiters belangrik om perspektief te behou en ons fokus eerder na God as die deur te skuif. Hy verander nooit nie en omdat Hy ons elkeen se toekoms ken en buite tyd en ruimte soos ons dit ken werk, kan ons rustig ons vertroue in Hom plaas. Met verloop van tyd beleef ons meestal hoe daardie toe deur juis God se manier was om ons teen verdere seer of verkeerde besluite te beskerm.

In Openbaring 3:8-9 sê God: “Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ʼn deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie.” God hou die sleutels vas om deure vir ons oop of toe te sluit. Ons moet Hom bly vertrou — selfs al maak dinge nie sin nie. In Jesaja 55:8-9 herinner Hy ons immers:“My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Ek wonder soms of WhatsApp ooit die lig sou sien as Koum en Acton in 2009 die werk by Facebook gekry het. Tog is ek oortuig dat nie een van die twee vandag spyt is oor die verwerping in die verlede nie. Daardie toe deur was juis wat hulle nodig gehad het om iets te ontwerp wat vandag kommunikasie vir ons almal vergemaklik.

Watter teleurstellings beleef jy tans? Moenie te lank voor die toe deur staan en tob nie. Sien dit as ʼn geleentheid om te groei, nuwe dinge te ontdek en God in die proses beter te leer ken. Onthou, Hy ken jou toekoms en jy mag dalk net soos Koum en Acton uitsonderlike vreugde beleef sodra die volgende deur oopgaan. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS