Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 11

Nuwe begin … as jou unieke self

Bybelteks(te)

PSALMS 139

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God,

hoe magtig hulle almal!

18As ek hulle sou wou opnoem –

hulle is meer as wat daar sand is,

en as ek daarmee klaar is,

sou ek nog steeds met U te doen hê.

PSALMS 139:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vir sommige jong kinders is die fassinasie met die fiktiewe superheld Superman ʼn fase wat hulle later ontgroei. Dít was egter nie die geval vir die 35-jarige ontwerper Herbert Chavez van die Filippyne nie. Sedert hy vir die eerste keer in die 1980’s as kind na die film Superman gekyk het, waarin die akteur Christopher Reeve die hoofrol vertolk, het Herbert begin om aandenkings van dié karakter te versamel.

Sy liefde vir en fassinasie met Superman het egter tot ʼn volgende vlak gestyg toe Herbert tien jaar gelede begin het om intense plastiese chirurgie te ondergaan (onder meer snywerk aan sy neus en ken asook inspuitings om sy vel ʼn ligter kleur te gee) om hom meer na Reeve te laat lyk. Hy het ook silikoon-inspuitings gekry vir voller lippe en dy-inplantings om meer gespierd te lyk.

Herbert, wat ʼn rokontwerper in die dorpie Calamba in die Filippyne is, het vir homself ʼn Superman-pak gemaak waarmee hy in die dorp rondstap. Die inwoners van die dorp sê dat hy hulle nie pla nie. Hy bied eerder aan hulle ʼn goeie geleentheid om hulle kinders te leer om nie soos iemand anders te probeer wees nie maar liewer hulle uniekheid uit te leef.

Hierdie storie klink dalk absurd, maar hoeveel keer het jy nie ook al (dalk onbewustelik) jouself met iemand anders vergelyk nie – wat mooier as jy is, meer geld as jy het, wie se kinders beter op skool of sportgebied vaar as joune of wat gewilder in die werksomgewing is as jy? En hoeveel keer het jy nie van jou uniekheid begin inboet deur te probeer om meer soos “daardie” persoon te wees nie?

Luister na die woorde in Psalm 139:16-18: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”

Wanneer ons ons uniekheid prysgee om meer soos iemand anders te probeer wees, stap ons weg van die unieke plan wat God spesifiek vir ons elkeen se lewe het. Voordat jy dus weer minderwaardig voel as jy jou mooi vriendin, ryk vriend, gewilde kollega of die vriende met die slim, sportiewe kinders raakloop, herinner jouself daaraan dat hulle nooit oor die potensiaal kan beskik wat God spesifiek vir jou gegee het om ʼn verskil in die wêreld te maak nie.

Kom ons gryp dus elke kans vandag – en elke dag van hierdie jaar – aan om God trots te maak deur die potensiaal wat Hy binne ons geplaas het ten volle uit te leef. Onthou, ʼn tweedehandse weergawe van iemand anders was nog nooit so aantreklik soos ʼn unieke weergawe van jouself nie! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS